Nuus 06:00
BULLETIN 7 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube sê onveilige skoolstrukture is iets van die verlede
# President Ramaphosa stel vandag fase 2 van Operasie Vulindlela bekend
# En Friedrich Merz is Duitsland se nuwe kanselier
# Die Departement van Basiese Onderwys sê hy het alle skole wat met modder en asbes gebou is, suksesvol verwyder. Minister Siviwe Gwarube het tydens ‘n inligtingsessie aan die Parlement se Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys gesê dit is ‘n belangrike mylpaal in die verbetering van omstandighede waaronder onderrig gegee word. Gwarube waarsku egter oorbevolking bly ‘n ernstige probleem en die departement benodig 32-miljard-rand om meer klaskamers te bou:
# Die EFF het die geleidelike agteruitgang van plaaslike regerings en die wydverspreide regeringsmislukkings van munisipaliteite uitgelig. Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het in April ‘n gespreksdokument uitgegee oor die hersiening van die Witskrif oor Plaaslike Regering van 1988. Die hersiening is gemik op eerlike besinning en besliste optrede om ‘n geskikte plaaslike regeringstelsel te bou. Chumani Matiwane van die EFF het aan die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge gesê die ineenstorting van effektiewe toesig is kommerwekkend:
# President Cyril Ramaphosa stel vandag die tweede fase van Operasie Vulindlela in Pretoria bekend om vinnige en inklusiewe ekonomiese groei te steun. Operasie Vulindlela is in Oktober 2020 gestig om die instelling van strukturele hervormings te versnel. In die eerste fase het die operasie gefokus op hervormings in vyf sleutelgebiede met ‘n hoë moontlike uitwerking op groei en werksgeleenthede Die gebiede is energie, logistiek, telekommunikasie, water en die visumstelsel. Die Presidensie sê hervormings aan die visumstelsel word eerste gestel om vaardighede te lok en toerismegroei te bevorder.
# Die Nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het bevestig dat die Ongeluk-eenheid van die polisie besig is om die omstandighede rondom die dood van drie konstabels van die Vrystaat te ondersoek. Cebekhulu Linda, Boipelo Senoge en Keamogetswe Buys is dood aangetref in die Hennopsrivier in Centurion. Tydens die gedenkdiens het Masemola gesê forensiese deskundiges is besig om die oorsaak van die voorval te bepaal:
# Friedrich Merz het met sy tweede poging ’n parlementêre stemming gewen om Duitse kanselier te word. In ’n sitting wat haastig gister gereël is, het 325 parlementslede vir sy aanstelling gestem, meer as die 316 wat nodig was. Merz, wat in Februarie ’n verkiesing gewen het en verlede maand ’n regerende koalisie aangekondig het, het met ‘n vroeëre stemming ses stemme te min gekry – ’n verdere terugslag in ‘n moeilike tyd van onsekerheid vir die land. Hy is nou gereed om formeel kanselier te word sodra hy deur die Duitse president bekragtig is.
# Rugby: Die kanse is skraal dat Ierland se kaptein, Caelan Doris, saam met die Britse en Ierse Leeus na Australië sal toer. Die agsteman, wat beskou is as ‘n moontlike toer-kaptein, is beseer en moet ‘n operasie ondergaan, wat hom maande op die kantlyn kan hou. Die Leeus se hoofafrigter, Andy Farrell, gaan na verwagting môre sy toergroep aankondig. Hulle speel drie toetse teen die Wallabies en nog ses wedstryde tydens die toer van 28 Junie tot 2 Augustus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 24-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-600-dollar-80-sent. Die prys van goud is drie-duisend-393-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….