Nuus 07:00
BULLETIN 10 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is op pad na Frankryk vir ‘n amptelike staatsbesoek
# Public Interest SA het ‘n strafregtelike klag ingedien teen die waarnemende nasionale polisiekommissaris
# En die VN-hoof sê hernude aanvalle tussen die VSA en Iran sal katastrofiese gevolge hê
# President Cyril Ramaphosa is van vandag tot Sondag op ‘n staatsbesoek in Frankryk. Hy sal volgens sy program talle bilaterale vergaderings hou, onder andere met president Emmanuel Macron. Hy sal tydens besoek deelneem aan hoëvlak-gesprekke by UNESCO, met Franse sakelui vergader en die 110de herdenking van die Slag van Delville-bos bywoon. Die Presidensie sê die verhouding tussen Suid-Afrika en Frankryk bly van ʼn omvattende en produktiewe aard, en word ondersteun deur sterk samewerking op talle vlakke en in verskeie sektore.
# Die organisasie, Public Interest SA, het ʼn strafregtelike klag by die Valke ingedien teen die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, oor die moontlike oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Dit hou verband met die Suid-Afrikaanse Polisiediens se omstrede Medicare24-kontrak van 228-miljoen-rand. Public Interest SA se voorsitter, Tebogo Khaas, sê as die SAPD se finansiële hoof toe die kontrak toegeken is, het Dimpane versuim om statutêre verpligtinge wat finansiële oorsig betref, na te kom, ten spyte van kommer oor die verkrygingsproses en ʼn voortgesette interne oudit:
# Die Organisasie Teen Belastingmisbruik sê die Stad Johannesburg moet bewys hy kan sy finansies verantwoordelik bestuur voor die Nasionale Tesourie die toelaagbefondsing vrystel. Die organisasie verwelkom die Tesourie se besluit om die geld terug te hou en sê die stad moet blywende finansiële hervormings, verantwoordbaarheid en behoorlike bestuur toon. Julius Kleynhans van OUTA is van mening inwoners benodig beter dienslewering, nie nog beloftes of herstelplanne nie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, moedig Suid-Afrikaners aan om spaarmaand te gebruik om beter finansiële gewoontes aan te leer. Meyer sê gereelde spaar, begrotings en die verbetering van finansiële geletterdheid kan huishoudings help om stygende lewenskoste, skuld en onverwagte uitgawes die hoof te bied. Hy het verbruikers aangespoor om klein te begin, onnodige skuld te vermy en noodspaargeld op te bou om hul langtermyn finansiële sekuriteit te verbeter.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, waarsku die hervatting van aanvalle en teenaanvalle tussen Amerika en Iran kan die diplomatieke vordering sedert die skietstilstand in April aangekondig is, ongedaan maak. Amerika het hierdie week meer as 150 teikens in Iran getref waarin 14 mense dood is. Teheran het Amerikaanse militêre basisse in die Midde-Ooste aangeval. Die VN-woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê ʼn terugkeer na volskaalse vyandelikhede sal rampspoedige gevolge hê vir die streek se mense en vir internasionale vrede en sekuriteit:
# Tennis: Die Tsjeg, Karolina Muchova, en haar landgenoot, Linda Noskova, sal Saterdag in die Wimbledon-eindstryd meeding vir die vroue-enkelspeltitel. Dit is albei se eerste geleentheid om as Grand Slam-kampioen gekroon te word. Muchova het die Amerikaner Coco Gauff verslaan en Noskova het met Marta Kostyuk van Oekraïne afgereken. Die 20-jarige Noskova is die jongste vrou in die eindstryd sedert 2014. Dis die eerste keer dat twee vroue van dieselfde nasie sake in ʼn Grand Slam-eindstryd uitspook sedert die Amerikaners Sloane Stephens en Madison Keys by die Amerikaanse Ope in 2017.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-383-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-113-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….