Nuus 06:00
BULLETIN 16 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer minister Pandor se reisuitgawes van 47-miljoen-rand
# Fase 2-beurtkrag word tot Woensdag verleng
# En, ‘n agentskap van die Verenigde Nasies sê die krisis in Gaza is ‘n mensgemaakte ramp
# Die DA het die minister van Internasionale Verhoudinge en Samewerking, Naledi Pandor, en haar departement se buitensporige besteding ontbloot, en onthul meer as 47-miljoen-rand is sedert 2019 toegeken vir reis, verblyf en verwante koste. Die onthulling, wat volg op ‘n parlementêre vraag, het wenkbroue laat lig, veral in die lig van die voortgesette kostebesparingsmaatreëls wat deur die Nasionale Tesourie ingestel is in kritieke dienssektore soos behuising, gesondheid en onderwys. Emma Louise Powell van die DA sê die oordadige uitgawes staan in skerp kontras met die besparingsmaatreëls wat aanbeveel is vir noodsaaklike dienste:
# Eskom sê fase 2-beurtkrag sal voortduur tot vier-uur Woensdagmiddag. Oor die naweek het opwekkingsvermoë verbeter danksy eenhede wat weer in gebruik geneem is. Dit het gelei tot ‘n kort beurtkrag-opskorting Sondagaand. Die volgehoue verbetering in opwekkingsvermoë en die verwagte laer aanvraag het nou daartoe gelei dat fase 2-beurtkrag tot Woensdagmiddag ingestel is. Die woordvoerder van Eskom, Daphne Mokwena, sê onbeplande onderbrekings en beplande onderhoud dra by tot die uitdagings, met hoofbestuurders van kragstasies wat onverpoos werk om die beplande 739-megawatt opwekkingsvermoë te herstel:
# ActionSA se benoeming vir Tshwane-onderburgemeester, dokter Nasiphi Moya, sê sy weet die taak wat voorlê is enorm, maar dit is noodsaaklik om die blywende stabiliteit van dienste aan inwoners te verseker. Volgens ‘n verslag wat verlede jaar deur die raad goedgekeur is, sal dit sowat twee-miljoen-rand per jaar kos om die onderburgemeester te huisves. Moya sê hierdie rol bied ‘n geleentheid om te fokus op transversale funksies wat verband hou met infrastruktuurontwikkeling, herstelwerk en instandhouding:
# Die Verenigde Nasies se Hulp- en Werke-agentskap vir Palestynse Vlugtelinge sê die humanitêre operasie in Gaza het vinnig een van die mees komplekse en uitdagendste in die wêreld geword. Meer as 100 dae sedert die begin van die Israel-Hamas-konflik duur intense Israeliese bomaanvalle steeds voort oor ‘n groot deel van die Gaza-strook, met meer as 20-duisend Palestyne wat reeds dood is. Die agentskap se kommissaris-generaal, Philippe Lazzarini, sê die krisis in Gaza is ‘n mensgemaakte ramp wat vererger word deur ontmenslikende taal en die gebruik van voedsel, water en brandstof as oorlogsinstrumente.
# Krieket: Suid-Afrika se vrouespan sal Australië later die maand besoek vir ‘n geskiedkundige veel-formaat-toer. Die besoek bestaan uit drie T20’s, drie eendagwedstryde en ‘n enkele toets in Perth. Laura Wolvaardt sal die Proteas aanvoer, met Krieket Suid-Afrika wat ‘n toergroep aangekondig het van 15 spelers vir die witbal-deel van die toer. Die T20-reeks begin op die 27ste van die maand in Canberra, en die eendagwedstryde sal gespeel word van die derde tot die tiende van volgende maand. Die toets begin op die 15de.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-599-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-51-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….