Nuus 06:00
BULLETIN 6 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA betwis die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming in die hof
# Vier word in hegtenis geneem in verband met die vermiste joernalis
# En die Internasionale Geregshof wys Soedan se volksmoordsaak van die hand
# Die DA sê hy is gereed om vandag in die Hooggeregshof in Pretoria voort te gaan met sy saak teen die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming. Die party voer aan dat die wet rassekwotas instel wat as teikens verbloem is, en mense onregverdig en ongrondwetlik van werk uitsluit op grond van ras. Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, het aan die media gesê die wetgewing gee die minister van Indiensneming en Arbeid onbeperkte magte om rassekwotas op te lê, wat beleggings sal ontmoedig en werkloosheid vererger:
# Vier verdagtes is in hegtenis geneem nadat die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Mdhluli, in Februarie vermis geraak het. Die polisie sê die eerste verdagte is die laaste persoon wat saam met die paartjie gesien is en die ander verdagte het motoronderdele in sy besit gehad wat vermoedelik aan die vermiste joernalis behoort. Daar is ook beslag gelê op twee Citi Golf-voertuie. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die inhegtenisnemings volg ná ‘n gesamentlike optrede deur die polisie in Gauteng en Mpumalanga:
# Die Stad Ekurhuleni het 389 metro-polisiebeamptes geskors weens hul betrokkenheid by ’n onwettige staking op 19 Maart. Die beamptes het gestaak uit protes oor salarisaanpassings en het groot snelweë, insluitend die R-21 en N-3, geblokkeer, wat verkeer en toegang tot die OR Tambo Internasionale Lughawe ontwrig het. Hulle staar nou moontlike afleggings in die gesig weens growwe wangedrag. Zweli Dlamini van die Stad Ekurhuleni sê hulle het arbeidswette en openbare vertroue geskend.
# AfriForum het premier Mandla Ndlovu se bevindings verwelkom oor die duur aankoop van 22 skootrekenaars deur die Mpumalanga Onderwysdepartement vir twee-miljoen-rand. Die burgerregtegroep, wat beswaar gemaak het deur die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, sê die premier het onreëlmatighede en ’n toesmeerdery bevestig. Alana Bailey van AfriForum sê stappe soos koste-herwinning, amptenare wat op swartlyste kan verskyn en moontlike aanklagte is belangrike stappe vir aanspreeklikheid:
# Die Internasionale Geregshof het Soedan se saak om die Verenigde Arabiese Emirate aanspreeklik te hou vir volksmoorde in Wes-Darfur afgewys. Soedan het sy saak teen die Emirate in Maart aanhangig gemaak en hulle beskuldig dat hulle die Rapid Support Forces in die Soedanese burgeroorlog bewapen het. Dodelike konflik het in April 2023 uitgebreek toe die spanning tussen die weermag en die RSF ontplof het. Die hof het beslis die saak kan nie voortgaan nie omdat die VAE uit die Volksmoordkonvensie getree het.
# Rugby: Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, het verskeie veranderings aan sy opdrafspan gemaak vir vandag se tweede Rugbykampioenskaps-onder 20-wedstryd teen Australië op die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha. Suid-Afrika het Saterdag in die openingsronde teen Argentinië gewen, terwyl Australië met ‘n laat drie ‘n gelykop-telling teen Nieu-Seeland afgedwing het. Foote het JC Mars, Wandile Mlaba, Batho Hlekani en Herman Lubbe in die opdrafspan ingesluit. Al vier het verlede jaar ook vir die Bababokke gespeel. Die nuwe skakelpaar is Ceano Everson op skrumskakel en Vusi Moyo op losskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-695-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-332-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….