Nuus 06:00
BULLETIN 5 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motshekga sê die DRK-sending is deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap befonds
# Paul Mashatile vergader vandag met sakeleiers oor die transformasiefonds
# En die vrou wat na bewering Kelly Smith se huis afgebrand het verskyn vandag in die hof
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, sê die finansiering van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapsending in die Demokratiese Republiek die Kongo kom van die 16 lande wat die SAOG uitmaak. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het begin met die onttrekking in fases van troepe uit die DRK. Die geraamde koste van die missie is ongeveer drie-miljard-rand. Motshekga sê hulle wag nog op die SAOG om te sê hoeveel Suid-Afrika moet bydra:
Die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, Rudzani Maphwanya, sê intussen die onttrekking van troepe uit die Demokratiese Republiek die Kongo is ‘n strategiese politieke stap om vrede en bestendigheid te bevorder. Dit volg op ‘n ooreenkoms tussen die DRK-regering en die M23-rebelle. Maphwanya het bevestig die tweede onttrekkingsfase het begin nadat 57 lede in fase een reeds by die punt van samekoms in Tanzanië aangekom het:
# Adjunkpresident, Paul Mashatile, sal vandag ‘n sake-ontbyt by die Freedom Park-erfenisterrein en -museum in Pretoria bywoon wat fokus op die Transformasiefonds. Die geleentheid, aangebied deur die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, en die Nasionale Bemagtigingsfonds, bevorder ekonomiese insluiting deur ondersteuning vir swart sakeondernemings. Die fonds poog om finansiële en nie-finansiële hulp aan klein, medium en mikro-ondernemings sowel as koöperasies te bied, deur gebruik te maak van Swartbemagtigtingswetgewing. Dit sal openbare en privaat hulpbronne mobiliseer vir betekenisvolle swart ekonomiese deelname.
# Die adjunkminister van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Steve Letsike, het die Parlement versoek om sy magte te gebruik om pod-uitsaaiers aanspreeklik te hou vir aanlyn geslagsgeweld. Dit volg op openbare verontwaardiging oor die Podcast- and Chill-aanbieder MacG se opmerkings oor die mediapersoonlikheid, Minnie Dlamini. Letsike het die minister van Kommunikasie, Solly Malatsi, versoek om inhoudsregulasies en -beleid te toe te pas om skadelike inhoud in digitale ruimtes te stop:
# ‘n 27-jarige vrou sal na verwagting vandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van brandstigting omdat sy na bewering die Middelpos-huis van Kelly Smith in Saldanhabaai aan die brand gesteek het. Die brandstigting het plaasgevind kort na die skuldigbevinding van Smith, haar kêrel en ‘n vriend aan die ontvoering en mensehandel van haar dogter, Joslin. Die polisie het ‘n saak van brandstigting aanhangig gemaak en gaan voort met hul ondersoek. Die drietal word aangehou in afwagting op hul vonnisoplegging.
# Motorsport: Die 15de Simola-heuwelren in die Wes-Kaap het gisteroggend die lewe geëis van die ervare deelnemer Pieter Joubert wat in ‘n ongeluk dood is. Dit het tydens sy eerste wedren op die tweede dag plaasgevind. Volgens die organiseerders van die geleentheid, Knysna Speed Festival, het Joubert beheer oor sy voertuig verloor op die hoëspoed-opdraandedeel, as gevolg van ‘n vermoedelike meganiese fout. Hy is op die toneel dood verklaar en ‘n volledige ondersoek word ingestel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-330-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-243-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….