Nuus 06:00
BULLETIN 2 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa ondersteun minister Godongwana
# Die Staatsdiensminister verdedig die openbare sektor se loonrekening
# En die voertuig wat in die Hennopsrivier gevind is, het aan die drie oorlede konstabels behoort
# President Cyril Ramaphosa sê die begrotingsdooiepunt wat nou opgelos is, is nie ‘n rede vir die verwydering van minister van Finansies, Enoch Godongwana nie. Daar was verskeie oproepe dat die minister afgedank moet word oor die dooiepunt wat hom nou noop om die begroting vir die derde keer op 21 Mei ter tafel te lê. Dit is ‘n ongekende stap sedert 1994. Ramaphosa het gister by Cosatu se Werkersdag-herdenking in Mpumalanga gesê die silwer randjie van die dooiepunt is ‘n meer deursigtige begrotingsproses:
# Die minister van Staatsdiens en Administrasie, Inkosi Mzamo Buthelezi, sê die loonrekening van die staatsdiens is nie die enigste uitdaging vir die land se gesondheidsfiskus nie. Die loonrekening van die openbare sektor is tans sowat 724-miljard-rand. Die minister sê die loonrekening het as ‘n persentasie van gekonsolideerde besteding gedaal van 35,7-persent in 2013/2014 tot 32,1-persent in 2022/2023. Hy sê die regering verseker nou dat die loononderhandelingsproses in lyn is met beplanning- en begrotingsiklusse om te verseker dat dit binne die nasionale fiskus is.
# Die polisie het bevestig dat die wit VW Polo wat uit die Hennopsrivier in Centurion gehaal is, aan die drie Vrystaatse polisiebeamptes behoort het wat vroeër die week dood is. Konstabels Cebekhulu Linda, Keamogetswe Buys en Boipelo Senoge het vermis geraak nadat hulle verlede week van Bloemfontein na hul ontplooiingsgebied in Limpopo gereis het. Hul liggame is Dinsdag uit die rivier gehaal. Polisiekommissaris Fannie Masemola sê ‘n deeglike ondersoek sal nou gedoen word:
# Die kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, sê die lykskouing van die gevangene Quinton Fortuin toon dat hy dood is weens veelvuldige beserings deur ‘n stomp voorwerp. Fortuin het op 16 Februarie ‘n korrektiewe beampte, Lwandile Manise, by die Goodwood Korrektiewe Sentrum in Kaapstad sonder uitlokking aangeval. Thobakgale sê bykomende beamptes het in reaksie op die aanval ingegryp en geweld gebruik om die oortreder in bedwang te bring. Fortuin is met beserings na die Karl Bremer-hospitaal geneem waar hy dood verklaar is:
# Tesla se voorsitter, Robyn Denholm, het ‘n berig in die Wall Street Journal verwerp dat die maatskappy se raad na ‘n nuwe uitvoerende hoof soek om Elon Musk te vervang. Denholm sê in ‘n plasing op Tesla se amptelike X-rekening die bewering is onwaar en die raad het baie vertroue in Musk se vermoëns. Tesla se aandeelprys het vanjaar met tot 45-persent gedaal. Hoewel Musk in die openbaar voorspraak gedoen het vir laer tariewe, blyk dit dat hy min vordering met Trump gemaak het en dat Tesla se verkope in China in gedrang is.
# Rugby: Die veteraan veelsydige voorspeler Deon Fourie se kontrak by die Stormers is met ‘n jaar verleng, ondanks ‘n besering wat sy seisoen voortydig beëindig het. Die 38-jarige Fourie het vroeër die maand ‘n enkeloperasie ondergaan nadat hy op 19 April in die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Connacht in Kaapstad beseer is en vir die res van die seisoen op die krukkelys is. Hy is egter vir volgende seisoen behou. Fourie was die oudste speler wat die Springboktrui oor sy kop getrek het toe hy in 2022, drie maande voor sy 36ste verjaardag, vir sy eerste toets gekies is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-95-sent teen die euro en 24-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-376-dollar-70-sent. Die prys van goud is drie-duisend-240-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….