Nuus 06:00
BULLETIN 30 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie bevestig die liggame van die vermiste konstabels is in Centurion gevind
# Die minister van Finansies sal vandag die tegniese stappe van die begroting uitspel
# En rugby: Die dinamiese jong flank Sasko Ndlovu sluit by die Cheetahs aan
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het bevestig dat drie van die vyf liggame wat uit die Hennopsrivier in Centurion, Pretoria, gehaal is, dié van die konstabels is wat verlede Woensdag vermis geraak het. Konstabels Linda Cebekhulu, Keamogetswe Buys en Boipelo Senoge het verdwyn terwyl hulle van Bloemfontein na hul ontplooiingsgebied in Limpopo gereis het. Masemola sê die vierde liggaam is dié van ‘n administrateur by die Lyttleton-polisiestasie. Die vyfde liggaam is ontbind, en die identiteit kon nog nie bevestig word nie:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal vandag die tegniese stappe uiteensit wat die aanbieding van die 2025-begroting voorafgaan. Hy sal vergesel word deur adjunkministers David Masondo en Ashor Sarupen, saam met die direkteur-generaal van die Nasionale Tesourie, Duncan Pieterse. Die inligtingsessie sal die proses verduidelik wat tot die finalisering van die nasionale begroting lei. Die minister het ingestem tot die bevel van die Hooggeregshof in die Wes-Kaap wat sy besluit om BTW met ’n voorgestelde 0,5-persentasiepunt te verhoog, op te skort.
# Die Motorbedryfpersoneelvereniging sê minister van Vervoer, Barbara Creecy, se streng maar regverdige benadering bring broodnodige dissipline na die paaie. Die vakbond het die daling van 46-persent in padsterftes, die laagste in drie jaar, en ’n 33-persent-afname in ongelukke oor die Paasnaweek verwelkom. Die vereniging se woordvoerder, Sonja Carstens, het Creecy se besliste optrede geprys, insluitend sigbare wetstoepassing en meer padblokkades, en gesê dit is ’n strategie wat lewens red:
# Die DA in Johannesburg gaan strafregtelike klagtes van bedrog, korrupsie en moontlike geldwassery teen vyf senior amptenare van die Stad Johannesburg indien. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê die saak, wat verband hou met meer as 18-miljoen rand se vermiste fondse, het die voortgesette finansiële wanbestuur in die metro uitgewys. Sy het die belangrikheid van aanspreeklikheid beklemtoon:
# Twee Katolieke kardinale sal volgende week se kardinaalsvergadering om ’n nuwe pous te verkies, weens gesondheidsprobleme misloop. Die verwagte aantal kiesers kom nou te staan op 133. Die Vatikaan het hulle nie by name genoem nie, maar ’n bron by die aartsbisdom van Valencia het aan AFP bevestig dat emeritus-aartsbiskop, kardinaal Antonio Cañizares, weens sy gesondheid nie daar sal wees nie. Die geheime stemming in die Sistynse Kapel begin op 7 Mei. Pous Franciskus se opvolger benodig nou ’n tweederde-meerderheid van 89 stemme.
# Rugby: Die voormalige Junior Springbok en Universiteit van Johannesburg-kaptein, Sasko Ndlovu het by die Cheetahs aangesluit. Die dinamiese jong flank sal voor die 2025 Curriebeker-seisoen in Julie by die span aansluit. Ndlovu, oorspronklik van Durban, het naam gemaak by die Lions, waar sy spel van hom ‘n keuse vir die Junior Springbokke gemaak het. Daarbenewens het die Cheetahs die kontrak van die veteraan-slot, Carl Wegner vir nog twee jaar verleng.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 21-rand-10-sent teen die euro en 24-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-975-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-315-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….