Nuus 06:00
BULLETIN 29 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF verwelkom die afskaffing van die BTW-verhoging deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof
# Die Grensbestuursowerheid registreer meer as een-miljoen bewegings deur die land se grensposte
# En daar is geen aanduidings dat die kragonderbreking in Spanje en Portugal ‘n kuberaanval was nie
# Die EFF het die Wes-Kaapse Hooggeregshof se besluit verwelkom om die 0,5-persent BTW-verhoging op te skort, wat dié belastingverhoging Donderdag voorkom. Hierdie besluit volg ná ‘n regsgeding deur die DA en die EFF teen die BTW-koersaanpassing en die besluit van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies om die finansiële komitees se verslae te onderskryf. Die EFF-leier Julius Malema sê die opskorting van die BTW-verhoging was nodig:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, sê gedurende die 2025 Paastydperk is meer as een-miljoen bewegings by die land se 71 hawe-grensposte registreer. Dit is ‘n toename van agt-persent vergeleke met die 2024 Paastydperk toe ongeveer 974-duisend-729 geregistreer is. Masiapato sê hierdie opwaartse neiging beklemtoon die groeiende vraag na oorgrensreise in die tydperk na Covid-19:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het die sperdatum vir kommentaar op die konsepdokument oor die transformasiefonds verleng. Die datum is van 7 Mei tot 28 Mei uitgestel. Tau het die publikasie van die konsepdokument in Maart aangekondig vir openbare kommentaar van 30 dae. Hy sê die doel van die fonds is om Ontwikkelingsfondse vir Ondernemings en Verskaffers saam te voeg om ondernemings in swart besit se deelname, transformasie en volhoubaarheid aan die ekonomie te ondersteun.
# Die Gauteng Departement van Onderwys is dringend besig om seker te maak onderrig by die Riverlea High School gaan sonder veel ontwrigting voort wanneer skole volgende Maandag heropen. Die departement sê elf klaskamers is Sondagaand verwoes in ‘n brand wat vinnig versprei het, en gelei het tot die vernietiging van ‘n hele blok klaskamers. Die woordvoerder van die Onderwysdepartement, Steve Mabona, sê ongeveer 230 leerders word regstreeks deur die gevolge van die brand geraak:
# Die president van die Europese Raad, António Costa sê daar is geen aanduiding van sabotasie of ‘n kuberaanval nadat groot dele van Spanje en Portugal gister kragonderbrekings ondervind het nie. Die onderbrekings het verkeersligte ontwrig en chaos in reissentrums veroorsaak en alle tenniswedstryde by die Madrid Ope is gestaak. Die Portugese elektrisiteitsowerheid sê dit is veroorsaak deur ‘n seldsame atmosferiese verskynsel wat verband hou met temperatuurwisseling. Dit kan tot ‘n week neem om te herstel.
# Krieket: Protea-vrouekaptein, Laura Wolvaardt sê hulle is vol vertroue voor die Driehoekige Eendag-reeks teen Sri Lanka en Indië in Colombo. Daar is drie nuwelinge in die groep: die 17-jarige paaltjiewagter-kolwer Karabo Meso, en die veelsydige draaiboulspelers Seshnie Naidu en Miane Smit. Suid-Afrika se openingswedstryd is vandag teen Indië. Wolvaardt sê hulle het goeie voorbereiding gedoen, veral om gewoond te raak aan die toestande en die hitte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 21-rand-10-sent teen die euro en 24-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-976-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….