Nuus 06:00
BULLETIN 25 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê hulle sal druk uitoefen vir bestedingshersiening om verkwistende uitgawes te verminder
# Donald Trump veroordeel Rusland se jongste lugaanvalle op Oekraïne
# En atletiek: Gift Leotlela word gekroon as nuwe 100-meter-kampioen
# Die DA sê hulle sal druk uitoefen vir ‘n breër bestedingshersiening om verkwistende uitgawes te verminder. Dit volg nadat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, die voorgestelde BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte wat volgende Donderdag in werking sou tree, teruggetrek het. Die afskaffing van die verhoging sal ‘n tekort van 75-miljard-rand in die fiskus laat. Die DA se federale voorsitter, Helen Zille, sê die hersiening sal ook korrupsie en ondoeltreffende besteding uitskakel wat hulpbronne uitput:
Die Organisasie teen Belastingmisbruik, OUTA, het die regering van nasionale eenheid intussen aangemoedig om interne kommunikasie te verbeter na die verwarring rondom die geskrapte BTW-verhoging. Die organisasie het die besluit verwelkom om BTW op 15-persent te hou, maar sê die situasie kon vermy gewees het deur beter koördinering. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê Suid-Afrika se werklike probleem is nie inkomste nie, maar roekelose besteding en korrupsie:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het die sperdatum vir openbare kommentaar oor die Konsepdokument vir die Transformasiefonds verleng vanaf 7 tot 28 Mei. Dit gee meer tyd vir openbare deelname en deelname van organisasies. Die fonds beoog om 100-miljard-rand in te samel deur ’n openbare-privaat poging om ondernemings in swart besit te ondersteun, veral in landelike gebiede en swart woongebiede. Belanghebbendes word aangemoedig om hul geskrewe kommentaar voor die nuwe sperdatum in te dien.
# Die vakbond Nehawu hou vandag ’n betoging by die Uniegebou in Pretoria om die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, aan te spoor om ’n vredesooreenkoms met Rusland te onderteken. Zelensky het gister by die regeringsetel met president Cyril Ramaphosa vergader. Nehawu verwag dat die saamtrek wat om 11-uur begin, teen 2-uur verby sal wees. Motoriste moet verkeersontwrigting in Arcadia verwag. Die Tshwane Metropolisie en die polisie sal op die toneel wees om die verrigtinge dop te hou.
# President Donald Trump het Rusland se jongste lugaanvalle op Oekraïne veroordeel en gesê dit was onnodig en met ‘n baie slegte tydsberekening. Moskou het 70 missiele en 145 hommeltuie op Kiev gemik, wat van Woensdagnag tot gisteroggend minstens 12 lewens geëis en ongeveer 90 beseer het. Die Russiese ministerie van Verdediging beweer die aanvalle was gerig op militêre infrastruktuur, insluitend masjienbou- en tenkmaatskappye. Op Truth Social het Trump sy Russiese eweknie, Vladimir Putin, versoek om te stop en die vredesooreenkoms te onderteken.
# Atletiek: Die naelloper Gift Leotlela het die mans 100-meter-titel verower op Suid-Afrika se senior kampioenskap in Potchefstroom. Hy het die wêreld-junior-kampioen en Olimpiese silwermedaljewenner Bayanda Walaza met slegs 0,01-sekonde geklop en in 9,99-sekondes klaargemaak. Walaza was tweede op presies 10 sekondes, en Benjamin Richardson het die derde plek ingeneem in 10,05-sekondes. Leotlela en Walaza het albei nou gekwalifiseer vir die 100-meter-wedloop op die Wêreld-Atletiekkampioenskap in Tokio in September.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 21-rand-33-sent teen die euro en 24-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-940-dollar-80-sent. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….