Nuus 06:00
BULLETIN 23 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA beskuldig ActionSA dat hulle die publiek om die bos lei
# Die BTW-verhoging van 0,5-persent is wettig
# En rugby: Tielman Nieuwoudt verlaat die Bulle om by die Cheetahs aan te sluit vir die Curriebeker
# Die DA beskuldig ActionSA dat hy doelbewus die publiek mislei met vals bewerings oor die nasionale begrotingsproses. Die DA sê ActionSA is besig om ‘n oneerlike veldtog te voer om misleiding te veroorsaak met sy rol in die hulp om die fiskale raamwerk goedgekeur te kry. Die DA sê hy het die voorgestelde BTW-verhoging van twee-persent van die begin af teengestaan. Karabo Khakhau van die DA sê ActionSA misbruik openbare frustrasie en gebruik waninligting om goedkoop politieke punte aan te teken:
Die Parlement voer intussen aan die BTW-verhoging van 0,5-persent wat volgende week van krag word, is wettig hangende parlementêre wysiging. Die DA en die EFF betwis die verhoging in die Wes-Kaapse Hooggeregshof, en beweer dit skakel die Parlement se magte ten opsigte van belasting uit. Uitspraak is voorbehou. Die Parlement se regsverteenwoordiger, Priscilla Pillay, het die verhoging verdedig en sê die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde stel die minister van Finansies in staat om BTW tydelik aan te pas, solank die Parlement dit binne 12 maande goedkeur:
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie sal vandag in Pretoria na die kantore van die Nasionale Tesourie, die Departement van Basiese Onderwys, en die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding in Pretoria opruk. Die vakbond betoog teen aanhoudende begrotingsinperkings, wat hy sê die onderwysstelsel verlam en leerders se reg op gehalte-onderrig skend. Nomusa Cembi van SADOU sê oorvol klaskamers, befondsing wat vertraag word, ongevulde poste en onveilige leeromstandighede is besig om die norm te word:
# Die man wat in verband met die noodlottige skietery by die Walter Sisulu-universiteit in Mthatha in hegtenis geneem is, is in aanhouding tot sy volgende hofverskyning volgende Vrydag. Die 54-jarige man, wat daarvan aangekla word dat hy Sisonke Mbolekwa doodgeskiet het, het gister in die Mthatha-landdroshof verskyn. Hy het na bewering lukraak op ‘n groep studente losgebrand wat verlede week buite sy huis op die kampus betoog het. Hy staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord.
# Pous Franciskus se liggaam sal vandag in staatsie lê in die Sint Petrus-basilika, wat openbare besigtiging op die Sint Petrus-plein moontlik maak. Volgens sy wense sal Franciskus Saterdag begrawe word in die Basilika van Santa Maria Maggiore in Rome, eerder as op die tradisionele begraafplek onder die plein. Die 88-jarige pous is Maandag dood na ’n serebrale beroerte wat tot hartversaking gelei het. Die pous het vroeër vanjaar vyf weke in die hospitaal deurgebring met dubbele longontsteking.
# Rugby: Die Cheetahs het Tielman Nieuwoudt in hul span verwelkom. Die sterk loskopstut, ‘n produk van Grey College in Bloemfontein, het sedert 2022 die Blou Bulle en die Bulle verteenwoordig en sal amptelik by die Cheetahs aansluit voor hierdie jaar se Curriebeker-reeks wat in Julie begin. Nog goeie nuus vir die Cheetahs se getroue ondersteuners is dat die haker Vernon Paulo sy toekoms tot die span verbind het deur sy kontrak vir nog twee jaar te verleng.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 21-rand-13-sent teen die euro en 24-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-131-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….