Nuus 06:00
BULLETIN 15 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Advokaat Tembeka Ngcukaitobi sê Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel is ‘n deurslaggewende keerpunt
# Eskom stel Fase 3-beurtkrag in tot Donderdag
# En tennis, Novak Djokovic skrik groot maar oorleef die eerste ronde van die Australiese Ope
# Advokaat Tembeka Ngcukaitobi sê die ervaring om Suid-Afrika by die Internasionale Geregshof te verteenwoordig het hom nederig laat voel. Die regspan wat die land se saak gestel het teen Israel se beweerde volksmoord in Gaza, is gister op die OR Tambo Internasionale Lughawe as helde verwelkom. Ngcukaitobi, ‘n spesialis in internasionale konflikoplossing by die Pan-Afrika Balie-vereniging van Suid-Afrika, het beklemtoon dit was net één episode in ‘n lang stryd:
Namibië het Duitsland intussen gekritiseer oor sy steun vir Israel in die volksmoordsaak wat Suid-Afrika by die Internasionale Geregshof aanhangig gemaak het. Die Namibiese president Hage Geingob veroordeel Duitsland en sê die land het nie geleer uit sy eie volksmoord op Namibiese mense vroeg in die 20ste eeu nie. Volgens Geingob moet Duitsland nog ten volle rekenskap gee vir die volksmoord op Namibiese grondgebied. Hy voeg by Duitsland kan nie moreel steun uitspreek vir die Verenigde Nasies se Konvensie teen Volksmoord terwyl hy die menseslagting en volksmoord in Gaza steun nie.
# Eskom het vanoggend vyfuur met fase drie-beurtkrag begin wat tot Donderdag sal voortduur. Die kragvoorsiener sê daar was ‘n geringe verbetering in opwekkingsprestasie met voldoende noodreserwes vir hierdie week. Daar sal na verwagting teen Woensdag twee-duisend-721 megawatt se opwekkingskapasiteit by die netwerk gevoeg kan word. Eskom voeg by hy sal voortgaan om die kragstelsel noukeurig te monitor en indien nodig, enige beduidende veranderings aan die publiek kommunikeer.
# Die politieke ontleder Zamo Mbandlwa sê die aftrede-aankondiging van die ANC-parlementslid, Nkosazana Dlamini-Zuma, is nie ‘n verrassing nie. Dlamini-Zuma dien sedert 1994 in die parlement, in verskeie kabinetsposisies onder vyf presidente. Sy was ook voorsitter van die Afrika Unie-kommissie. Mbandlwa sê terwyl die redes en haar planne na aftrede onbekend is, is dit waarskynlik dat Dlamini-Zuma mik na ‘n standhoudende nalatenskap:
# Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal het ‘n beroep op inwoners gedoen om gehoor te gee aan weerwaarskuwings. Nog drie mense is in twee afsonderlike voorvalle dood terwyl hulle probeer het om oorstroomde laagliggende brûe oor te steek, nadat swaar reën drie distrikte in die KwaZulu-Natalse Middellande getref het. Dit bring die dodetal sedert Vrydag op agt te staan, met nog ses mense wat vermis word. Die departement sê die grootste skade is in die eThekwini Metro, en die KwaDukuza en Ndwedwe Munisipaliteite aangerig.
# Tennis: Verdedigende kampioen, Novak Djokovic, het groot geskrik in die eerste ronde van die Australiese Ope maar bly op koers vir sy elfde titel in Melbourne, en ‘n nuwe rekord van 25 Grand Slams. Die Serwiër kon eers na meer as vier uur die 18-jarige kwalifiseerder Dino Prizmic van Kroasië met 6-2, 6-7, 6-3, 6-4 verslaan. Die Amerikaner Taylor Fritz en Andrey Rublev van Rusland het in hulle wedstryde ook elkeen vyf stelle nodig gehad om na die tweede ronde deur te dring. Djokovic was vol lof vir Prizmic, wat 178ste op die wêreldranglys is:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-244-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-48-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….