Nuus 06:00
BULLETIN 16 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi eis dat die minister van Finansies die begrotingsdooiepunt moet oplos
# Nog niemand is gearresteer vir die skietery by die Walter Sisulu-universiteit nie
# En Ace Magashule vertrou die staat het geen saak teen hom nie
# Rise Mzansi het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gevra om die voortslepende begrotingsdooiepunt dringend op te los. Die party sê die vertraging benadeel die land se geloofwaardigheid en ekonomie. Rise Mzansi stel voor daar moet gesny word aan die 500-miljoen-rand vir die weermag se onttrekking uit die Demokratiese Republiek die Kongo, miljarde wat uitstaande is aan onbetaalde belasting moet ingesamel word en verkwistende openbare besteding moet verminder. Mabine Seabe van Rise Mzansi dring verder aan op vinniger optrede met dobbelbelasting-hervormings en waarsku die dooiepunt skend die publiek se vertroue in die regering:
# Die Oos-Kaapse polisie sê niemand is nog in hegtenis geneem ná gisteroggend se skietvoorval op die Mthatha-kampus van die Walter Sisulu-universiteit nie. ‘n Student is na bewering deur ‘n kampuskoshuisbestuurder geskiet tydens ‘n betoging oor kwessies, insluitend die haglike toestand van verblyf. Twee ander studente is in die hospitaal opgeneem. ‘n Polisiewoordvoerder, Nobuntu Gantana, sê hulle sal die skietvoorval deeglik ondersoek:
Die ANC-Jeugliga het intussen die skietvoorval ten sterkste veroordeel. Die liga vra die onmiddellike inhegtenisneming van die verdagte en ’n deeglike ondersoek na die universiteit se personeelwerwingsprosesse. Hulle eis aanspreeklikheid om toekomstige geweld op kampusse te voorkom.
# ‘n Voormalige sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule sê hy vertrou die staat het geen saak teen hom nie. Die voormalige Vrystaatse premier en die omstrede sakeman, Edwin Sodi, is onder 18 wat van bedrog, korrupsie en geldwassery beskuldig word. Dit hou verband met die omstrede toekenning van ‘n tender van 255-miljoen-rand deur die Vrystaatse Departement van Menslike Nedersettings. Magashule sê hy is bly die waarheid sal uiteindelik tydens die verhoor uitkom:
# Iran se opperbevelhebber, Ajatolla Ali Khamenei, is tevrede met onderhandelings met Amerika, maar waarsku dit kan uiteindelik vrugteloos wees. Teheran en Washington sal weer Saterdag ontmoet, ‘n week nadat senior amptenare die hoogste vlak gesprekke gevoer het sedert 2015 se kernooreenkoms in duie gestort het. President Donald Trump, wat tydens sy eerste termyn uit die ooreenkoms onttrek het, het sy sanksieveldtog van maksimum-druk hervat in sy tweede termyn. Hy het verlede maand gesprekke aangemoedig in ‘n brief aan Khamenei, en gewaarsku oor moontlike militêre optrede indien Iran weier.
# Rugby: Ierland het aangekondig dat die unie se vier provinsies vanaf Augustus volgende jaar 40-persent tot nasionale spelers se kontrakte sal moet bydra. Op die oomblik is dit 30-persent. Dit sal die grootste uitwerking op Leinster hê, wat die meeste nasionaal gekontrakteerde spelers het. Die Ierse Rugbyvoetbalunie sê die fondse wat deur die verhoging gegenereer word, sal in provinsiale spelerontwikkelingstrome belê word. Die unie sê die verandering sal verseker dat die model billik en finansieel volhoubaar bly vir almal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 21-rand-48-sent teen die euro en 25-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-652-dollar-90-sent. Die prys van goud is drie-duisend-244-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….