Nuus 06:00
BULLETIN 15 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mcebisi Jonas sê hy is bewus van die moeilike taak wat voorlê
# Krieket: Drie nuwelinge sal deel wees van die Protea Vroue se driehoek-reeks in Sri Lanka
# En Katy Perry sê sy gaan ‘n liedjie skryf oor haar ervaring in die ruimte
# Suid-Afrika se nuwe spesiale gesant na die Verenigde State, Mcebisi Jonas, het belowe om sy bes te doen om ‘n gesonde werksverhouding tussen die twee lande te bevorder, maar sê hy is bewus van die probleme wat hy waarskynlik sal teëkom. Die voormalige adjunkminister van Finansies sal die land se diplomatieke, handels- en bilaterale prioriteite en onderhandelinge lei om vennootskappe met die regering van president Donald Trump te bevorder. Jonas het mense gevra om geduldig te wees en sê dit is ‘n ingewikkelde situasie sonder kitsoplossings:
Die Forum vir Suid-Afrika het intussen teleurstelling uitgespreek oor president Cyril Ramaphosa se aanstelling van Jonas, as spesiale gesant. Die forum sê dit dui op Ramaphosa se gebrek aan belangstelling om die verslegtende verhouding tussen die twee lande reg te stel. Hoewel hy Jonas se integriteit respekteer, voer Tebogo Mashilompane van die forum aan dat die president self die pogings behoort te lei om betrekkinge met die VSA te verbeter:
# Eskom en Exxaro het saamgespan om klimaatsverandering te beveg en besoedeling te verminder. Hulle het ‘n nuwe ooreenkoms onderteken om koolstofvrystellings te verminder, luggehalte te verbeter en ‘n regverdige oorgang na skoner energie te ondersteun. Die plan sluit in die gebruik van nuwe groen tegnologie, die skep van werkgeleenthede en die opleiding van werkers in die hernubare energiesektor. Die Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dit sal help om die omgewing te beskerm terwyl elektrisiteit steeds beskikbaar sal wees.
# President Ramaphosa besoek vandag die Oos-Kaap. Die program van twee dae sluit in ‘n Transnet-inligtingsessie by die Ngqura-hawe, ‘n belangrike herskepingsentrum wat gekoppel is aan die Koega Spesiale Ekonomiese Streek. Ramaphosa sal operasionele verbeterings en bestaande projekte evalueer. Die president sal ook met premier Oscar Mabuyane en die provinsiale uitvoerende gesag vergader om inter-regeringsamewerking en dienslewering te bevorder. Dit is die vyfde provinsiale toesigbesoek onder die Sewende Administrasie se Distrikontwikkelingsmodel.
# Krieket: Twee tieners is die eerste keer na die Protea-vroue opgeroep vir ’n driehoekige eendagreeks wat later die maand in Sri Lanka begin. Die 17-jarige paaltjiewagter Karabo Meso en die 19-jarige bybreek-draaibouler Seshnie Naidu het beïndruk vir die Suid-Afrikaanse onder-19-span wat vroeër vanjaar die eindstryd van die Junior Wêreldbekertoernooi gehaal het. Die veelsydige Miané Smit is ook ingesluit vir die reeks teen Sri Lanka en Indië. Die reeks word gesien as belangrike voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi wat in Oktober in Indië begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 21-rand-41-sent teen die euro en 24-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-532-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-212-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: Die popster Katy Perry sê sy sal ‘n liedjie skryf oor haar ervaring in die ruimte. Sy was gister deel van ‘n span vrouens wat die ruimte besoek het aan boord van Jeff Bezos se Blue Origin-vuurpyl. Die joernalis Lauren Sánchez, die uitsaaier Gayle King, die vuurpylwetenskaplike Aisha Bowe, die burgerregte-aktivis Amanda Nguyen en die rolprentvervaardiger Kerianne Flynn is ingesluit. Terwyl hulle teruggekeer het, het Perry What a Wonderful World deur Louis Armstrong gesing. Sy sê dis ‘n belangrike liedjie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….