Nuus 06:00
BULLETIN 10 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump plaas sy tariewe op ys vir 90 dae
# Die GOOD-party striem die DA en PA se besoek aan Israel
# En amptenare word geskors oor die George-gebouramp
# President Donald Trump het al die wederkerige tariewe wat hy gister ingestel, het vir 90 dae op ys gesit, behalwe vir China. Gedurende die tydperk sal daar ‘n algemene tarief van tien-persent geld, terwyl heffings vir Beijing tot 125-persent sal styg. Dit is omdat China van vandag as straf 84-persent tariewe op Amerikaanse goedere sal hef. Trump het tydens ‘n Nascar-geleentheid in die Withuis gesê billike ooreenkomste sal met China en elke ander land onderhandel word:
# The GOOD Party sê parlementslede van die DA en die Patriotic Alliance het, volgens hulle, in die geheim na Israel gereis het sonder om die parlement of die regering daarvan in kennis te stel. Die party voer aan dat die afvaardiging, wat blykbaar Nicholas Myburgh en Bridget Masango van die DA, en Ashley Sauls van die PA ingesluit het, nie bekend gemaak het wie vir die reis betaal het, wie hulle ontmoet het, of wat hulle doel was nie. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, beskuldig die parlementslede dat hulle partybelange hoër ag as die publiek se welvaart in ‘n tyd van wêreldspanning:
# Die Mineraleraad Suid-Afrika sê hy verwag ‘n sinvolle, beleggersvriendelike verandering aan die Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkelingswet op Minerale en Petroleumhulpbronne. Die departement van Minerale en Petroleumbronne moet nog die wetsontwerp in die Staatskoerant publiseer. Die raad sê hy hoop die wetsontwerp sal beleggings aanmoedig en ondersteun, wat voorsiening maak vir ‘n verskuiwing in die uitgangspunt van mynontwikkeling deur eksplorasie. Die raad sê die bedryf moet meer doen en wetgewing vir mynbou moet ‘n verskuiwing bewerkstellig.
# Amptenare wat met die ineenstorting van die George-gebou verbind word, is deur die Nasionale Huisbouersreguleringsraad geskors. Dit volg op ‘n forensiese verslag oor die voorval. Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane het verdere ondersoeke, insluitend deur die polisie, verwelkom en gevra vir aanspreeklikheid. Sy het gesê daar moet gevolge wees vir diegene betrokke by die tragedie wat 34 lewens geëis het:
# Atletiek: Die eerste Baan-en-veld-atletiekreeks wat vandag en môre by die Universiteit van Johannesburg aangebied word, gaan waarskynlik ‘n skouspelagtige afsluiting wees vir die nasionale eindrondes. Die stigter en voormalige Olimpiese naelloper, Matthew Quinn, sê die reeks het ongelooflike talent in die land na vore gebring. Meer as vier-duisend-100 atlete van 240 skole het die laaste twee maande aan die kompetisie by nege provinsiale byeenkomste deelgeneem. Meer as 500 atlete van 17 verskillende skole neem aan die eindrondes deel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-40-sent teen die dollar, 21-rand-24-sent teen die euro en 24-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-578-dollar-70-sent. Die prys van goud is drie-duisend-87-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe studie wat die Universiteit Stellenbosch gedoen het oor onderwysersvoorkeure en werkstevredenheid in Suid-Afrika, toon hoë stresvlakke omdat leerkragte oorwerk is, oorweldig is deur administratiewe pligte en ‘n gebrek aan ondersteuning vir geestesgesondheid. Die opname, wat deur Allan en Gill Gray Philanthropies en die FEM Education Foundation ondersteun word, toon 50-persent van die een-duisend-500 onderwysers beplan om die beroep binne tien jaar te verlaat. Die verslag beklemtoon die behoefte aan ondersteuning vir geestesgesondheid, minder papierwerk en aansporings vir plattelandse onderwysers om uitbranding hok te slaan en onderwysers te behou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….