Nuus 06:00
BULLETIN 8 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die begroting is ‘n belangrike instrument om ongelykheid te beperk
# Die MK-party vra vir minister Mchunu se bedanking oor die Matatiele-kinderverkragtingsaak
# En Nigerië wil die Statebondspele in 2030 aanbied
# President Cyril Ramaphosa het die goedkeuring van die nasionale begroting verdedig en gesê dit is ‘n belangrike instrument om ontwikkeling te bevorder, armoede uit te roei en ongelykheid te beperk. Die Parlement het verlede week die fiskale raamwerk goedgekeur, wat ‘n verhoging van 0,5-persent in BTW insluit. In sy weeklikse nuusbrief sê die president die maatskaplike loon kan slegs volgehou word as die ekonomie groei. Hy sê die begroting weerspieël die prioriteite van die regering se Mediumtermyn-ontwikkelingsplan.
Die GOOD-party sê intussen hy sal konstruktiewe alternatiewe bied vir die BTW-verhoging en die inkomste-verskuiwing van persoonlike belastingkerwe. Die party stel voor om inkomste te verhoog deur belastingvoordele vir die rykes te verminder, die werkersbelastingaansporing te kanselleer, en om tekorte moontlik te dek deur reserwes te gebruik. Op die mediumtermyn stel die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron voor om ‘n rykdombelasting op ultra-rykes in te stel en regeringsbesteding te hersien.
# Die MK-party eis die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se bedanking ná onthullings dat hy die mense mislei het in die Cwecwe-kinderverkragtingsaak. Die party sê Mchunu het beweer DNS-monsters is van Bergville College in Matatiele in die Oos-Kaap, se skoolhoof geneem, maar dit het later aan die lig gekom daar is geen DNS-monsters geneem nie. Nomahlubi Radebe van die party vra ‘n volledige openbaarmaking en beskuldig die minister dat hy openbare vertroue ondermyn en die ondersoek in gevaar gestel het:
# Die DA in Gauteng berig provinsiale skole gaan agteruit en het ‘n agterstand van 31,3-miljard-rand in instandhouding. Die DA-lid, Michael Waters, sê ten spyte hiervan is slegs 427-miljoen-rand of 1,36-persent van die nodige fondse vir herstelwerk in die 2024/2025-boekjaar bewillig. Waters beweer die toestande vir leerders is onveilig aangesien amptenare glo die krisis miskyk. Hy bepleit aandag aan die agterstande om gehalte-onderwys te verseker:
# Kanada het ‘n klagte by die Wêreldhandelsorganisasie ingedien oor die swaar tariewe wat president Donald Trump ingestel het op motorinvoere. Die organisasie sê Kanada het die Verenigde State gevra vir konsultasies oor geskille rondom Amerikaanse maatreëls wat ‘n belasting van 25-persent op Kanadese motors en motoronderdele plaas. Kanada se regering het in sy versoek beweer die tariewe is teenstrydig met die Verenigde State se verpligtinge onder internasionale handelswette.
# Statebondspele: Die Olimpiese Komitee van Nigerië het aangekondig hy het die 28 Maart sperdatum nagekom met die van ‘n verklaring van voorneme om die 2030 Statebond Spele aan te bied. Nigerië kan slegs formeel aansoek doen met regeringsondersteuning. Die land het ‘n aansoek om die 2014 Spele aan te bied teen Glasgow verloor. In ‘n verklaring sê Nigerië sy aansoek vir die 2030 Spele in die hoofstad Abuja sal ‘n unieke geleentheid bied om sy ontwikkeling ten toon te stel, sy wêreldstatus te versterk en sy sportkultuur te vernuwe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-60-sent teen die dollar, 21-rand-39-sent teen die euro en 24-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-271-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-981-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….