Nuus 06:00
BULLETIN 4 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA en die UDM dring aan op alternatiewe vir ‘n BTW-verhoging
# Die Suid-Afrikaanse Mineraleraad sê sleuteluitvoere is vrygestel van Amerikaanse tariewe
# En Volvo gaan die produksie van voertuie in die VSA verhoog
# ActionSA sê hy erken die ANC se verbintenis om parlementêre aanbevelings in te stel. Die party vra konstruktiewe betrokkenheid by die 30-dae lange proses om alternatiewe inkomstevoorstelle af te handel. Matthew George van ActionSA dring aan dat die BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte geskrap moet word en inflasie-aanpassings vir persoonlike inkomstebelasting gehandhaaf moet word. Hy versoek alle partye om deursigtig te werk om die nodige inkomste te genereer sonder om Suid-Afrikaners verder te belas:
Die UDM weerlê intussen bewerings dat hy vir die 0,5-persentasiepunt BTW-verhoging gestem het en verklaar hy ondersteun die 2025/26-begroting se fiskale raamwerk onder streng voorwaardes. Die UDM se adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, sê die party dring aan op uitgawebesparings en die behoefte aan finansiële balans, terwyl noodsaaklike welsynsprogramme soos die maatskaplike noodverligtingtoelaag gehandhaaf word:
# Die Mineraleraad van Suid-Afrika het kommer uitgespreek oor die moontlike uitwerking van die VSA se nuwe 30-persent-tariewe op sekere uitvoere. Sleutelminerale soos platinum, goud en steenkool word van die tariewe uitgesluit, maar ystererts en diamante word ondermeer geraak. Allan Seccombe van die raad waarsku globale handelsontwrigtings kan sakesentiment en ekonomiese groei knou, veral in die mynbou, maar die sterker goudprys en swakker rand kan ‘n mate van verligting bied:
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Shamila Batohi, sê die vryspreking van die TV-evangelis pastoor Timothy Omotoso is ‘n onaanvaarbare bespotting van die gereg. Hy en sy twee medebeskuldigdes is vrygespreek van alle aanklagte, insluitend verkragting en mensehandel. Batohi het ‘n verslag van die Oos-Kaapse direkteur van Openbare Vervolging, Barry Madolo, aangevra oor die uitspraak en negatiewe bevindings van die regter oor die vervolgingspan. Sy sê hulle oorweeg om teen die uitspraak te appelleer.
# Swede se Volvo Cars, wat aan Geely in China behoort, sal sy produksie van voertuie binne die Verenigde State verhoog en waarskynlik ‘n bykomende model daar vervaardig, na die inwerkingstelling van tariewe deur die Amerikaanse president Donald Trump. Motors wat buite die Verenigde State vervaardig word, is van gister af, onderhewig aan ‘n 25-persent tarief, terwyl ‘n tarief op onderdele ook geleidelik in werking gestel gaan word. Volvo monteer sy EX90 elektriese model asook sy byproduk, die Polestar 3, by sy aanleg naby Ridgeville in Suid-Carolina.
# Tennis: Die wêreld-nommer-elf, Emma Navarro van Amerika, sê sy het ‘n gesamentlike brief onderteken waarin gevra word vir ‘n groot verhoging in Grand Slam-toernooie se prysgeld om te verseker dat spelers gelyke behandeling ontvang. Die wêreld se beste 20 mans- en vrouspelers eis ‘n billiker verdeling van inkomste van die organiseerders van die Australiese, Franse en Amerikaanse Ope, en Wimbledon. Hulle sê laervlakspelers sukkel dikwels weens ‘n gebrek aan gereelde borge en groot uitgawes. Navarro glo dit is goed dat hulle seker maak almal word regverdig behandel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 24-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-16-dollar-40-sent. Die prys van goud is drie-duisend-115-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….