Nuus 06:00
BULLETIN 1 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ArcelorMittal stel die sluiting van sy lang-staalbedryf uit
# Eskom ontvang voorwaardelike besoedelingsvrystelling vir sy kragstasies
# En die VSA omskep kantore in Pretoria in vlugtelingverwerkingsentrums vir Afrikaners
# ArcelorMittal Suid-Afrika het die besluit om sy lang-staalbedryf te staak met minstens ses maande tot 31 Augustus uitgestel. Dit volg nadat hy ‘n lening van 1,68-miljard-rand van die regering se Nywerheidsontwikkelingskorporasie ontvang het. Die maatskappy het ook ‘n Tydelike Werknemerverligtingskema-toekenning ontvang om werknemerskoste te befonds. Die staalmaker wou sy lang-staalbedrywighede in Newcastle en Vereeniging sluit. ArcelorMittal sê die ingryping sal help om sy lang-staalbedryf voort te sit terwyl ‘n lewensvatbare langtermynoplossing gesoek word.
# Die minister van Omgewingsake, Dion George, het lugbesoedelingsvrystelling toegestaan aan agt Eskom steenkoolkragstasies, maar hou vol dit is nie ‘n algehele uitstel nie. Daar is streng voorwaardes verbonde aan die vrystellings, wat vyf jaar sal duur vir ses van die kragstasies en twee kragstasies wat tot 2034 vrygestel is. Dit sluit in die monitering van luggehalte, gesondheidsprogramme, die vermindering van uitstralings en die integrasie van hernubare energie. Die minister het beklemtoon Eskom bly aanspreeklik en moet dringend optree om besoedeling te verminder maar terselfdertyd energiesekerheid waarborg:
Eskom sal intussen die besluit van minister George hersien. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokoena sê die beslissing beteken Medupi, Majuba, Matimba, Kendal, Lethabo, Tutuka, Matla, en Duvha kan in bedryf bly. Sy sê Eskom bly verbind tot nakoming, omgewingsverantwoordelikheid en deurlopende skakeling met reguleerders en belanghebbendes.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het beklemtoon hoe belangrik dit vir die bekamping van geslagsgeweld is, om seuns van jongs af te leer om vroue te respekteer. Sy het tydens die Uyinene Mrwetyana-gedenklesing gepraat en skole aangemoedig om geslagsgeweldbewusmakingsprogramme te versterk en hande te vat met belanghebbendes om die kwessie by sy beginpunt aan te spreek. Sy het onderwys uitgelig as ‘n sleutelinstrument om die beskerming van vroue en kinders te bevorder:
# President Donald Trump het ‘Mission South Africa‘ van stapel gestuur. Dit is ‘n program wat wit Afrikaners voorkeur gee vir hervestiging as vlugtelinge. The New York Times het dokumente bekom waarin onthul word Amerikaanse amptenare het vlugtelingsentrums in Pretoria ingerig om meer as agt-duisend-200 aansoeke te hersien, met ‘n spesiale fokus op Afrikaner-boere. Aanbevelings sal teen middel April ingedien word oor hoe die program vorentoe sal beweeg. Die stap het omstredenheid ontketen, met kenners wat waarsku dit ondermyn die gevestigde vlugtelingbeleid.
# Gholf: Rory McIlroy van Noord-Ierland is slegs die tweede speler na die Amerikaner Tiger Woods om meer as 1,8-miljard-rand se prysgeld op die PGA-toer te verdien. Hy het dit vermag toe hy gesamentlik vyfde was in die Houston Ope. Die 35-jarige McIlroy het 28 toernooie gewen sedert sy beroepsbuiging in 2010. Die 49-jarige Woods het die mylpaal in 2012 bereik en sedertdien nog 400-miljoen-rand verdien. Nog ‘n Amerikaner, Phil Mickelson, het 1,7-miljard-rand verdien tot hy PGA in 2022 verruil het vir LIV Gholf, waar hy glo nog 3,6-miljard-rand ingepalm het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-286-dollar-20-sent. Die prys van goud is drie-duisend-120-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….