Nuus 06:00
BULLETIN 31 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika se beleid is soewerein
# Die EFF verwerp misleidende inligting oor die BTW-verhoging
# En uitspraak word verwag in Marine Le Pen se geldverduisteringsaak
# ANC nasionale uitvoerende komiteelid en minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola sê Suid-Afrika sal nie swig voor druk van Amerika oor sy binnelandse en buitelandse beleid nie. Dit volg nadat die verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika op sy mees gespanne is sedert president Donald Trump in Januarie ingehuldig is. Lamola het gister op die laaste dag van die NUK-vergadering in Boksburg, Gauteng, die land se verbintenis tot sy soewereiniteit en transformerende beleid beklemtoon:
# Die EFF sê hy verwerp wat hy beskryf as die ongevraagde, bevooroordeelde, misleidende en onlogiese redenasie van die voorsitter van die staande komitee oor Finansies, Joe Maswangany. In sy opmerkings in die Nasionale Vergadering, het Maswanganyi gesê die fiskale raamwerk is afsonderlik van die aanvaarding van die inkomste-wetsontwerp wat BTW sal verhoog. Hy’t gesê die stemming oor die fiskale raamwerk is nie dieselfde nie en het niks te doen met die BTW-verhoging nie. Die EFF hou vol dat wanneer die Nasionale Vergadering Woensdag bymekaar kom om die fiskale raamwerk te oorweeg en aan te neem, hulle nie die nodige ondersteuning sal hê nie.
# Die ministerie van Polisie sê sy ondersoek na twee afsonderlike verkragtingsake in die Oos-Kaap waarby minderjariges betrokke is, spruit uit voorvalle in Oktober en November verlede jaar. In die een voorval is ‘n minderjarige verkrag en ‘n verdagte is aangekeer en het in November verlede jaar in die hof verskyn, maar die polisie is steeds besig om die DNS-verslag saam te stel. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê in die tweede geval is ‘n minderjarige van Bergview Kollege verkrag met drie indiwidue, insluitend die skoolhoof, as verdagtes:
# ActionSA in Gauteng sê hy gaan die provinsiale LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, versoek om ‘n dringende plan voor te lê om die agterstand in die behandeling van kankerpasiënte aan te spreek. Die Gautengse Hooggeregshof het die departement verbied om die 250-miljoen-rand wat toegeken is om die behandelingsagterstand aan te spreek, te gebruik. Emma More van ActionSA sê met meer as drie-duisend pasiënte wat wag vir behandeling, kan die departement se gebrek aan optrede tot lewensverlies lei:
# ‘n Franse hof sal vandag uitspraak lewer oor die geldverduisteringsaak teen die verregse leier, Marine Le Pen, en 24 ander party-amptenare. Hulle is aangekla dat hulle tussen 2004 en 2016 geld gebruik het wat bedoel was vir die Europese Unie se parlementêre assistente om party-personeel te betaal. Dit is ‘n oortreding van die unie se regulasies. Indien sy skuldig bevind word, kan Le Pen vir vyf jaar verbied word om vir enige amp verkies te word, wat haar verhoed om in 2027 weer vir president te staan.
# Gholf: Michael Hollick van Suid-Afrika het ‘n laaste ronde van 8-onder 64 aangeteken om die DNi-toerkampioenskap in Pretoria met een hou te wen teen Jacques Kruyswijk en George Coetzee. Jonathan Broomhead het vierde geëindig. Intussen is Daniel van Tonder as wenner van die Sonskyntoer Meriete-orde vir die 2024/2025-seisoen gekroon, en Altin van der Merwe het die Fortress-nuweling-van-die-jaar-toekenning gewen. Hollick sê dit was ‘n spesiale jaar:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-220-dollar-20-sent. Die prys van goud is drie-duisend-89-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….