Nuus 06:00
BULLETIN 27 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula beskuldig die VSA van rasse-ongelykheid en die aanhitsing van oorloë
# Die Britse regering halveer sy ekonomiese groeivooruitsig
# En rugby: SA Rugby verwelkom FNB as die hoofborg van die Springbokke
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die Verenigde State is skynheilig en toon onderdrukkende eienskappe in sy buitelandse beleid. Mbalula het tydens ‘n kongres van die Demokratiese Verpleegkundige Organisasie van Suid-Afrika, Denosa, in Ekurhuleni, die VSA gekritiseer vir die gebruik van sy vetoreg by die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad om verantwoordbaarheid vir Israel se oortredings van internasionale reg te blok. Hy het die ANC se steun vir Palestina en Wes-Sahara herbevestig en gevra vir ‘n meer regverdige wêreldstelsel:
# Die DA veroordeel die minister van Verdediging, Angie Motshekga, se stilswye oor die Leër se beplande gholfdag op 4 April en noem dit onsensitief te midde van die voortslepende krisis in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die party sê Motshekga het oproepe ignoreer om die geleentheid te kanselleer terwyl soldate met toenemende bedreigings te kampe het. Die DA-lid, Nicholas Gotsell, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gekritiseer omdat hulle borgskappe by die sukkelende verdedigingsbedryf gevra het, en dring aan die geleentheid moet afgestel word:
# Die polisie in Gauteng is op soek na die eienaar van ‘n eiendom in Lombardy-Oos waar minstens 50 buitelandse burgers, wat vermoedelik slagoffers van mensehandel was, gister ontsnap het. Beamptes is ontbied nadat die buitelandse burgers, sommige halfnaak, ná die ontsnapping op straat rondgehardloop het terwyl sommige by ‘n plaaslike winkel weggekruip het. ‘n Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê hulle het daarin geslaag om 32 van die buitelanders te red:
# Die Britse regering het sy groeivooruitsig vir vanjaar halveer nadat hy miljarde pond se bestedingsbesnoeiings aangekondig het om die staatskas te ondersteun te midde van ekonomiese struikelblokke. Die aankondiging volg terwyl die Arbeidersregering trae ekonomiese groei en stygende leningskoste ervaar ná ‘n groot verkiesingsoorwinning in Julie. Daar word verwag dat Brittanje se ekonomie vanjaar met net een-persent sal groei teenoor die vooruitskatting van twee-persent in die regering se eerste begroting in Oktober.
# Rugby: FNB, met sy logo op die span se trui, is nou die hoofborg van die Springbokke. Dit bou voort op ‘n vennootskap wat in 2017 begin het en FNB sal die mans-, vroue- en jeugspanne ondersteun. Hoof uitvoerende beampte van FNB, Harry Kellan, sê die borgskap weerspieël die bank se toegewydheid aan die rol wat rugby in die eenheid van die nasie speel en die ontwikkeling van jong talent. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, sê die vennootskap sal rugby versterk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-838-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-19-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-79-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa sal vandag geloofsbriewe van aangewese hoofde van sendings ontvang by die Sefako Makgatho presidensiële gastehuis in Pretoria. Die hoofde verteenwoordig 14 lande. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die lande wat verteenwoordig sal word, sluit in die Republiek die Kongo, Rusland, Japan, Senegal, Portugal en Kanada:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….