Nuus 06:00
BULLETIN 18 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verwelkom ‘n EU-beleggingspakket
# RISE Mzansi sê Suid-Afrika kan dalk sukkel om Ebrahim Rasool te vervang
# En tornado’s en hewige storms eis die lewens van minstens 40 mense in die VSA
# President Cyril Ramaphosa sê die agtste Suid-Afrika-Europese Unie-Beraad wat verlede week in Kaapstad aangebied is, was ‘n deurslaggewende oomblik vir handel- en beleggingsverhoudings tussen die groepe. In sy weeklikse nuusbrief het hy verwys na die meer as 90-miljard-rand beleggingspakket wat gemik is om sleutelsektore soos entstofproduksie, energie-oorgang en infrastruktuur ‘n hupstoot te gee. Volgens Ramaphosa, het die beraad ook verbintenisse tot multilaterale en wêreldsamewerking herbevestig, met die EU wat Suid-Afrika se presidentskap van die G20-beraad ondersteun.
# RISE Mzansi se leier, Songezo Zibi, sê Suid-Afrika gaan dalk sukkel om die uitgeskopte Ebrahim Rasool te vervang as die land se ambassadeur in Amerika. Rasool het die posisie van 2010 tot 2015 beklee en weer vanaf verlede jaar. Hy is gevra om die land te verlaat nadat hy Donald Trump se leierskap as wit heerssugtigheid beskryf het. Rasool is 72-uur gegee om te vertrek en word dié week in Suid-Afrika terug verwag. Zibi het aan Newzroom Afrika gesê Amerika se besluit is ‘n jammerte:
# Die waarnemende bestuurshoof van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid, Themba Matlou sê hulle het landwyd ‘n hersieningsproses begin om bedrog te bekamp. Dit volg op die arrestasie van vier Sassa-amptenare verlede week in Johannesburg vir ‘n beweerde bedrogskema van 260-miljoen-rand. Matlou sê hulle wil ook biometriese verifikasie vir alle maatskaplike verligting van noodtoelaag-begunstigdes in die nuwe finansiële jaar instel, om bedrog in die stelsel te bekamp:
# Die Inwoners Baagi Civic Movement en verskeie ander organisasies het beloof om Tshwane vandag tot stilstand te bring oor voortdurende diensleweringsprobleme. Die betogers gaan by Marabastad byeenkom en na Tshwane-Huis marsjeer om ‘n versoekskrif in te dien oor sake soos hoë elektrisiteitstariewe, vals fakture, swak afvalbestuur, die tekort aan water en die ongereelde voorsiening van elektrisiteit. David Ratladi van die beweging vra die munisipaliteit om verantwoordelikheid te aanvaar vir die aanhoudende dienslewerings-mislukkings.
# Die dodetal in die tornado’s en hewige storms wat die sentrale en suidelike Verenigde State die naweek getref het, het tot minstens 40 gestyg, met tientalle beseerdes. Plaaslike nuuskanale het beeldmateriaal uitgesaai van dakke wat afgeruk, bome wat uitgeruk word en vragmotors wat in sterk wind omgeslaan het. Agt mense is dood in ‘n ongeluk in Kansas waarin meer as 50 voertuie betrokke was, nadat ‘n hewige stofstorm swak sigbaarheid veroorsaak het. Vier mense is in Oklahoma dood toe veldbrande en sterk wind gewoed het.
# Gholf: Rory McIlroy van Noord-Ierland het gister op die Spelerskampioenskap ‘n St. Patrick’s-dag-oorwinning behaal teen die Amerikaner JJ Spaun in ‘n uitspeelstryd by TPC Sawgrass in Florida. Die vier-malige Major-gholfkampioen het die drie-putjie-uitspeelstryd met een-oor-baansyfer voltooi, teenoor Spaun wat ‘n rampspoedige driedubbele brouhou op die tweede uitspeelputjie aangeteken het. McIlroy sê dit is die derde keer dat hy op St. Patrick’s-dag wen. Dit is sy tweede Spelerskampioenskap-oorwinning en sy 28ste PGA- toernooi-titel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-932-dollar-20-sent. Die prys van goud is drie-duisend-2-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….