Nuus 06:00
BULLETIN 11 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid van menseregte voor die volksmoordverhoor teen Israel
# NUPSAW vra ook vir Blade Nzimande se bedanking te midde van korrupsiebewerings
# En krieket, die openingswedstryd van die SA20 word weens reën afgestel
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se teenkanting teen die voortgesette slagting van die mense van Gaza het die land gedwing om die Internasionale Geregshof in Den Haag in Nederland te nader. Suid-Afrika beskuldig Israel daarvan dat hy volksmoord teen die Palestyne in Gaza pleeg. Israel het die bewering ten sterkste verwerp en sê dis ongegrond. Ramaphosa het tydens die begrafnis van die bekende fotograaf doktor Peter Magubane gepraat en gesê ons menslikheid word definieer wanneer ons ferm vir geregtigheid staan:
Intussen is die skedule hersien vir die openbare verhore oor Suid-Afrika se saak teen Israel voor die Internasionale Geregshof. Die twee sittings is verleng na drie-ure elk ná ‘n versoek van Israel. Vandag se sitting, wat vanoggend 11-uur Suid-Afrikaanse tyd begin, sal Suid-Afrika se mondelinge betoë bevat, terwyl môre s’n, ook vanaf 11-uur, op Israel se antwoord sal fokus. Die verhore sal regstreeks in Engels en Frans op die hof se webwerf gestroom word.
# Die vakbond NUPSAW vra ook die bedanking van die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, te midde van bewerings van korrupsie. Nzimande, asook die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, en die raadsvoorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khoza, word daarvan beskuldig dat hulle gunslone van skema-diensverskaffers ontvang het. Nzimande verwerp die bewerings wat deur die Organisasie teen Belastingmisbruik openbaar gemaak is, as ‘n smeerveldtog. NUPSAW se woordvoerder, Neo Lebethe, sê Nzimande moet terugstaan tot ‘n ondersoek afgehandel is weens sy onvermoë om tasbare bewyse voor te lê wat die bewerings weerlê.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het aangekondig laat registrasie-aansoeke vir die 2024 akademiese jaar is nog oop. Skole heropen volgende week en ouers en voogde wat nie vir plasing in Graad 1 en 8 aansoek gedoen het nie, word versoek om dit dadelik te doen. Die woordvoerder, Steve Mabona, het aan eNCA gesê niemand moet huiwer om aansoek te doen nie, aangesien die departement daartoe verbind is om te verseker alle leerders word geplaas:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag in die Vrystaat het voorlopige aanklagte teruggetrek teen een van die twee mans wat in verband met die moord op die 16-jarige Machaka Radebe in hegtenis geneem is. Haar liggaam is vroeg verlede maand deur ‘n verbyganger gevind, twee dae nadat sy as vermis aangemeld is. Lehlohonolo Thomas Rankuotsana het tereggestaan op aanklagte van moord, ontvoering en afpersing. Die NVG het geweier om bekend te maak hoekom die aanklagte voorlopig teruggetrek is, maar het beklemtoon dit beteken nie die saak is gesluit nie.
# Krieket: Die tweede seisoen van die SA20 se openingswedstryd tussen die verdedigende kampioene Sunrisers Eastern Cape en die Joburg Super Kings, is gisteraand op St George’s Park in Gqeberha afgestel sonder dat een bal geboul is. Geen spel kon plaasvind nie, wat beteken albei spanne kry twee punte. Vandag spook die Durban Super Giants en die MI Cape Town sake uit in Durban, terwyl die Paarl Royals môre op Bolandpark gasheer speel vir verlede jaar se naaswenners, Pretoria Capitals.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-629-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-29-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….