Nuus 06:00
BULLETIN 17 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA doen ‘n beroep op die Presidensie om die regering van nasionale eenheid se afvaardiging na die VSA te vervroeg
# Minstens 59 mense is dood in ‘n nagklubbrand in Noord-Masedonië
# En krieket: Die Dolphins klop Boland en word as Eendagbeker-kampioene gekroon
# Die DA vra die Presidensie om die regering van nasionale eenheid se afvaardiging na Amerika te vervroeg om te onderhandel oor maniere om die diplomatieke betrekkinge met een van die land se belangrikste handels- en beleggingsvennote te stabiliseer. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het op sosiale media verklaar Suid-Afrika se ambassadeur Ebrahim Rasool is as persona non grata nie meer welkom in die land nie. Emma Powell van die DA het aan Newzroom Afrika gesê die party beskou Rasool se uitsetting as uiters nadelig:
Cope sê intussen Suid-Afrika sal nie soos ‘n kolonie van Amerika behandel word nie, en ook nie deur president Donald Trump, wat voortdurend op verkeerde inligting oor die land reageer, voorgeskryf word nie. COPE sê Rasool se uitsetting is die jongste aanval oor die land se ondersteuning van Palestynse regte.
# Cosatu vra die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, om te verseker die probleme met die Werkloosheidsversekeringsfonds se aanlynstelling, wat keer dat uFiling glad werk, dadelik reggestel word. Die vakbondfederasie kry klagtes van beide werkers en werkgewers. Die woordvoerder Zanele Sabela sê hulle het in Oktober verlede jaar kommer uitgespreek nadat die uFiling-stelsel na wat berig word meer as ‘n maand lank van lyn af was:
# Die African Independent Congress in Johannesburg het die goedkeuring verwelkom van die stad se aansuiweringsbegroting, wat ‘n deurslaggewende stap is om stabiele bestuur en verbeterde dienslewering te verseker. Die woordvoerder Margaret Arnolds sê die goedkeuring van die begroting bewys wat bereik kan word as koalisievennote saamwerk met ‘n gedeelde toewyding tot dienslewering en finansiële omsigtigheid. Sy sê Johannesburg se inwoners verdien bestendigheid, nie politieke speletjies nie:
# Minstens 59 mense is dood en meer as 100 beseer nadat ‘n brand gisteroggend by ‘n nagklub in Kocani, Noord-Masedonië, uitgebreek het. Volgens berigte is die brand gestig deur vonke van vuurwerktoestelle wat die plafon getref het, wat van hoogs vlambare materiaal gemaak is. Daar was een-duisend-500 mense in die klub wat ‘n konsert van DNK, ‘n gewilde hip-hop-duo in die land, bygewoon het. Die polisie het die eienaar van die nagklub in hegtenis geneem, terwyl lasbriewe vir vier ander mense uitgereik is.
# Krieket: Die Dolphins is die Eendagbeker-kampioene, nadat hulle Boland met vier paaltjies in die Paarl verslaan het. Aya Gqamane en Imran Manack het ‘n rekord- agtste paaltjie gedeel en 96 lopies van 75 balle bygevoeg om Boland ‘n stewige totaal van 247 vir agt te gee nadat hulle ingestuur is om eerste te kolf. In antwoord het JJ Smuts 91 van 111 balle aangeteken en die Dolphins tot 248 vir ses geneem met vyf balle oor om die oorwinning te verseker. Boland het probeer om hul eerste major-titel in 25 jaar te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-353-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-989-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….