Nuus 06:00
BULLETIN 14 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika en die Europese Unie gaan hul ekonomiese bande versterk
# Die DA beskuldig die ANC dat hy BTW gebruik om sy korrupsiekoste te dek
# En Donald Trump dreig die Franse met ‘n 200-persent tarief op drankinvoere
# President Cyril Ramaphosa sê as een van Suid-Afrika se belangrikste handels- en beleggingsvennote kan die Europese Unie ‘n kataliserende rol speel om die ekonomie se produktiewe vermoëns vry te stel. Hy was gister die mede-voorsitter van die agste Suid-Afrika/Europese Unie-beraad in Kaapstad. Ramaphosa sê Suid-Afrika en die EU het ooreengekom oor die sterker ekonomiese samewerking en om uitdagings in handelsbetrekkinge op te los:
Die Europese Unie het intussen ‘n beleggingspakket van meer as 90-miljard-rand vir Suid-Afrika aangekondig wat fokus op skoon energie en entstofvervaardiging. Die aankondiging kom terwyl Suid-Afrika en die EU die VSA se veranderende handelsbeleid, wat tariewe op staal, aluminium en moontlik Europese wyne insluit, navigeer. EU-hoof Ursula von der Leyen het die EU se verbintenis beklemtoon om verskaffingskettings te versterk en om plaaslike nywerhede te ondersteun eerder as om net natuurlike bronne te ontgin:
# Die DA het die ANC daarvan beskuldig dat hy die BTW-verhoging gebruik om die koste van korrupsie te dek. Die party voer aan die regering belas Suid-Afrikaanse burgers met die verhoging van BTW terwyl hulle voortgaan om salarisse in die openbare sektor te verhoog. Die DA-lid, Ashor Sarupen, sê hulle glo nie die bykomende BTW-inkomste sal die land se ekonomiese behoeftes uitwis nie, maar sal eerder finansiële wanbestuur en korrupsie toesmeer:
# Die Stad Johannesburg het uiteindelik sy aansuiweringsbegroting vir 2024/2025 goedgekeur, nadat die raad se eerste poging in Februarie misluk het toe die sitting in duie gestort het. Altesaam 105 raadslede, insluitend dié van die DA en ActionSA, het die voorgestelde begroting verwerp, terwyl 138 raadslede van die ANC-geleide regering van plaaslike eenheid dit goedgekeur het. Die metro het aanpassings van 1,2-miljard-rand aan sy totale inkomste gemaak, wat sy jaarlikse begroting op meer as 77-miljard-rand te staan bring. Die metro sê hy bly onwrikbaar in sy missie om finansiële bestendigheid te verseker.
# Die Amerikaanse president Donald Trump dreig om tariewe van 200-persent in te stel op wyn, sjampanje en ander alkoholiese produkte van Frankryk en ander Europese Unie-lande, in weerwraak teen beplande heffings op VSA-vervaardige whisky. Trump het ná sy inhuldiging begin om handelsoorloë te voer teen beide sy mededingers en vennote. Die Europese Unie het hul tariewe onthul om Amerikaanse tariewe op staal en aluminium teen te werk. Die EU wil dit vanaf April in fases teen Amerikaanse goedere instel. Trump sê die 50-persent heffing op Amerikaanse whisky is “gemeen”.
# Rugby: Frankryk se hoofafrigter, Fabien Galthie, het vir Maxime Lucu die beseerde kaptein, Antoine Dupont, se nommer 9-trui gegee vir môre se Sesnasieswedstryd teen Skotland in Parys. Hy sê dis onmoontlik om die 32-jarige nie te beloon vir verlede naweek se indrukwekkende vertoning teen Ierland nie, toe hy Dupont voor rustyd vervang het. Die ervare Gael Fickou speel senter in Pierre-Louis Barassi se plek in die enigste ander verandering aan die span wat moontlik Ierland se hoop op ‘n derde agtereenvolgende titel, verydel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-88-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-987-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….