Nuus 06:00
BULLETIN 13 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê die regering se skuldverligtingsplan spaar 20-miljard-rand
# Kanada stel 25-persent vergeldingstariewe teen die VSA in
# En rugby: Rassie Erasmus is tevrede met die Bokke se eerste belyningskamp vir die jaar
# Die minister van Finansies Enoch Godongwana sê die regering se skuldverligtingsplan sal 20-miljard-rand spaar. Die plan behels in die finale stadium van Eskom se skuldoorname in 2025/2026 die bedrag van 70-miljard-rand na 40-miljard-rand te verminder, en tot tien-miljard-rand in 2028/2029. Tydens sy begrotingstoespraak in die Nasionale Vergadering het Godongwana gesê hierdie aanpassing sal na verwagting die fiskale situasie verbeter, die dienskoste vir skuld verminder en die regering se vermoë verbeter om die skuld meer doeltreffend te bestuur, en sodoende by te dra tot groter ekonomiese bestendigheid:
Godongwana, het intussen vyf-miljard-rand bewillig ter ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se vredespogings in die Demokratiese Republiek die Kongo. Dit vorm deel van die breër toekenning van nege-miljard-rand vir sekerheidsfunksies, insluitend befondsing vir korrektiewe dienste. Godongwana het gesê pogings om die weermag te moderniseer sal voortgaan, om te verseker die land kom sy plaaslike en internasionale verpligtinge na:
# Die ministerie van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het die plaaslike Landdroshof in Malawi se uitspraak verwelkom waarin goedkeuring gegee word om die selfverklaarde profeet en bedrogbeskuldigde, Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, uit te lewer. Die egpaar het in 2020 uit Suid-Afrika gevlug toe hulle tereggestaan het op verskeie strafregtelike aanklagte, insluitend verkragting en die oortreding van borgtogvoorwaardes. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê hulle sal enige appèl teenstaan en indien daar nie appèl aangeteken word nie, sal Interpol en die polisie die oorplasing hanteer.
# Die EFF in Gauteng eis onmiddellike optrede deur die Stad Tshwane teen nagklubs se geraasbesoedeling naby opvoedkundige instellings. Gebiede insluitend Hatfield, Sunnyside en Arcadia ondervind ontwrigting wat studente se akademiese welslae en veiligheid in gedrang bring. Die EFF beweer plaaslike owerhede, insluitend die Tshwane-metropolisie, tree nie op nie, en beskuldig sommige amptenare dat hulle omkoopgeld aanvaar. Die party vra strenger nagklub-regulasies en deursigtigheid oor die bedryf van die klubs in onderrigsones.
# Kanada het van vandag ‘n 25-persent vergeldingstarief aangekondig op meer as 367-miljard-rand se Amerikaanse goedere, soos staal- en aluminiumprodukte. Dit volg nadat president Donald Trump Woensdag 25-persent-tariewe ingestel het op alle staal en aluminium wat van Kanada na Amerika ingevoer word. Kanada se minister van Finansies, Dominic LeBlanc, sê die lys van bykomende produkte wat deur tariewe geraak word, sluit in rekenaars, sporttoerusting en gietysterprodukte:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus beplan om die nasionale groep se vaardighede te verbreed. Hy het die Bokke se eerste belyningskamp in Kaapstad voltooi. Die spelers het in die gimnasium gewerk en aan besprekings deelgeneem. Erasmus sê die doel van die kampe is om almal op dieselfde bladsy te kry ten opsigte van die vooruitsigte vir die jaar, om doelwitte te stel en die spelers in te lig oor wat van hulle verwag word. Hy is hoogs tevrede met hoe die spelers bymekaar gekom en by mekaar geleer het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-463-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-936-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….