Nuus 06:00
BULLETIN 12 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra dat pensioenfondse omsigtig gebruik word
# Donald Trump sê hy gaan die tariewe op Kanadese staal en aluminium verdubbel
# En atletiek: Die 2016 Olimpiese silwermedaljewenner Luvo Manyonga keer terug ná sy opkikkerskorsing
# President Cyril Ramaphosa vra die versigtige en verantwoordelike gebruik van pensioenfondse vir langtermyn-infrastruktuurprojekte. Hy sê terwyl die regering beleggings in sektore soos energie, vervoer en water aandryf, bly pensioenfondse werknemers se swaarverdiende spaargeld en dit moet beskerm word. Ramaphosa het in sy mondelinge reaksie op vrae in die Nasionale Vergadering gesê hierdie beleggings moet omsigtig wees, wat beide ekonomiese groei en finansiële sekerheid vir pensioenarisse verseker:
Ramaphosa het ook die tweede fase van die ekonomiese herstrukturering in Suid-Afrika uiteengesit, wat sal fokus op die verbetering van waterbestuur en plaaslike regering. Hy het in die Nasionale Vergadering gesê die doel is om die mense beter te dien en om meer sakegeleenthede in dorpe, landelike gebiede en townships te skep, terwyl ‘n inklusiewe ekonomie vir groei bevorder word:
# Burgerlike organisasies, insluitend Pay The Grants, vra president Cyril Ramaphosa om die minister van Finansies, Enoch Godongwana, tereg te wys oor sy uitlatings in Sondag se Sunday Times. Nathan Taylor van Pay the Grants sê die minister se uitlatings mislei die publiek oor die begrotingstoewysing aan die noodverligtingstoelaag. Hy sê die minister saai onmin tussen die armes terwyl hy die Nasionale Tesourie se voorkeurbeleid voorop stel:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, besoek vandag die families van die leerders wat Maandag dood is in ‘n noodlottige motorongeluk op die N12 in Daveyton, Ekurhuleni. Verskeie voertuie was betrokke in die botsing op die N12-weswaarts naby die Putfonteinweg-afrit. Die oorledenes sluit in twee graad 1- en graad 3-broers van die Tom Newby Primary School en ‘n graad 1-leerder van die Rynfield Primary School. Die departement sê ’n ondersoek na die ongeluk duur voort.
# President Donald Trump sê hy gaan tariewe op Kanadese aluminium en staal van vandag af van 25- tot 50-persent verdubbel. Hy sê dit is in weerwraak op Ontario se premier, Doug Ford, wat ‘n 25-persent-aanslag op elektrisiteitsuitvoer na drie Amerikaanse state, New York, Michigan en Minnesota, aangekondig het. In ‘n uitgerekte plasing op Truth Social sê Trump hy gaan ‘n nasionale elektrisiteitsnoodtoestand in dié state verklaar. Hy het ook gedreig om ná 2 April die tariewe op motors wat van Kanada ingevoer word, aansienlik te verhoog.
# Atletiek: ‘n Voormalige Suid-Afrikaanse verspring-ster keer vandag terugkeer nadat hy ‘n tweede skorsing vir opkikkergebruik uitgedien het. Luvo Manyonga is in 2012 geskors voor hy ‘n silwermedalje ingepalm het op die Olimpiese Spele in Rio in 2016, en goud op die wêreldkampioenskap in 2017. Hy is weer in 2020 geskors omdat hy ‘n verpligte opkikkertoets misgeloop het. Die 34-jarige Manyonga sal vanaand aan Atletiek Suid-Afrika se Grand Prix-byeenkoms in Pretoria deelneem. Sy laaste mededingende byeenkoms was in 2019 in Londen waar hy 8,37-meter gespring het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-682-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-915-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….