Nuus 06:00
BULLETIN 11 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beantwoord vandag vrae in die Nasionale Vergadering
# Die MK-party sê die regering hoef nie op ‘n BTW-verhoging staat te maak nie
# En vandag, vyf jaar gelede, het die Wêreldgesondheidsorganisasie die Covid-19-pandemie aangekondig
# President Cyril Ramaphosa sal vandag voor die Nasionale Vergadering verskyn om ses sleutelvrae in verband met nasionale en internasionale kwessies te beantwoord. Die vrae sluit in waar die regering staan met pogings om bande met die Verenigde State te versterk, wat word gedoen om ongelykheid aan te spreek en nuus oor die skietstilstand-proses in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die Nasionale Raad van Provinsies sal intussen ‘n ministeriële inligtingsessie oor skoolinfrastruktuur en -toerusting hou om die verbetering van fasiliteite vir gehalte-onderwys te bespreek.
# Die MK-party sê hy is sterk gekant teen enige verhoging van belasting in toegevoegde waarde en die regering moet die politieke wil hê om tot voordeel van armes op te tree. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het verlede maand sy begrotingsrede ter elfder ure gekanselleer nadat die kabinet nie kon saamstem oor ‘n voorgestelde verhoging van twee-persent in BTW nie. Die begroting word nou môre ingedien. MK se parlementêre sweep, Mzwanele Manyi, sê die regering moet aan ander maniere dink:
Die GOOD-party sê intussen pogings om vanjaar se begroting ter tafel te lê, het in ‘n politieke klug ontaard, met die ANC en die DA wat nie armoede en ongelykheid op ‘n doeltreffende manier kan pak nie. Die party meen die ANC se strewe na maatskaplike besteding word ondermyn deur ‘n BTW-verhoging wat die armes benadeel, en die DA se fokus om onnodige kostes te sny bied geen onmiddellike verligting nie. Sekretaris-generaal Brett Herron vra ‘n omvattende begrotingsopknapping en ‘n jaarlikse begrotings-lekgotla om beter finansiële beplanning te verseker.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid het gehoor gegee aan die gesamentlike verslag wat die Gesondheidsombud en die Kantoor vir die Voldoening aan Gesondheidstandaarde oor die Helen Joseph-hospitaal ingedien het. Die ondersoek is begin ná ‘n pasiënt, Thomas Holmes, in September 2024 bewerings gemaak het oor die bestuur, personeel en infrastruktuurkwessies. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê hy het begin met ingrypings in die provinsie, insluitend strukturele hersiening en die opgradering van infrastruktuur. Hy het die publiek verseker die gesondheidsorgdienste sal verbeter:
# Die Wêreld-gesondheidsorganisasie het vandag vyf jaar gelede aangekondig Covid-19 het ‘n pandemie geword, toe die wêreld uiteindelik behoorlik bewus geword het van die dreigende ramp. Die hoof van die WGO, Tedros Adhanom Ghebreyesus, het op 11 Maart 2020 op ‘n nuuskonferensie gesê die erger-wordende uitbreking kan bestempel word as ‘n pandemie. Eers toe het baie lande besef hoe ernstig die situasie was, en begin optree. Die ergste pandemie in ‘n eeu het miljoene lewens geëis, ekonomieë aan flarde geruk en gesondheidsorgstelsels lam gelê.
# Krieket: Die Warriors is gediskwalifiseer vir die uitspeelstryd van die Eendagbekerreeks omdat hulle nie voldoen het aan Krieket Suid-Afrika se kwota-vereistes nie. Hulle het verlede maand nagelaat om drie swart spelers in te sluit vir ‘n wedstryd, en nie die owerhede ingelig nie. Die Dolphins neem hulle plek in. Die Warriors sou teen die Titans speel vir ‘n plek in die eindstryd van Afdeling Een. Eddie Khoza van KSA sê ander spanne is tegemoet gekom toe hulle soortgelyke kwessies gekommunikeer het, maar die Warriors het dit nie gedoen nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-210-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-888-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….