Nuus 06:00
BULLETIN 6 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen waarsku teen ‘n ekonomiese terugslag as AGOA verval
# Minister Mchunu sê hy sal nie die Phala Phala-verslag bekendmaak nie
# En krieket: Dit is Nieu-Seeland teen Indië in die Kampioenetrofee-eindstryd
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het gewaarsku Suid-Afrika se sitrusbedryf kan ernstige verliese ly as die VSA nie die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika hernu nie. Suid-Afrika het in 2024 102-duisend ton sitrus na die VSA uitgevoer, sonder om tariewe ter waarde van 1,7-miljard-rand te betaal. Steenhuisen sê sonder AGOA sal uitvoere ‘n tarief van 1,53-persent in die gesig staar, wat boere en 250-duisend werksgeleenthede in die bedryf sal raak. Hy doen ‘n beroep op belanghebbendes om druk uit te oefen sodat AGOA hernu word en vra die diversifisering van uitvoermarkte.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu sê die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se verslag oor die Phala Phala-sage is as hoogs geheim geklassifiseer en kan nie vrygestel word nie. Dit handel oor die diefstal van Amerikaanse dollars op president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-plaas in Limpopo in 2020. Die Openbare Beskermer en die Reserwebank het hul bevindings in 2023 bekendgemaak. In ‘n skriftelike antwoord op ‘n parlementêre vraag van die African Transformation Movement sê Mchunu hy oortree nie die uitvoerende etiese kode deur nie die OPOD-verslag te deel nie.
Die African Transformation Movement het intussen Mchunu gekritiseer omdat hy nie die OPOD-verslag oor die Phala Phala-sage wil bekendmaak nie. Woordvoerder Zama Ntshona sê die besluit beskerm president Cyril Ramaphosa, ondermyn deursigtigheid en laat kommer ontstaan oor die misbruik van staatsbronne. Hy vra Mchunu om die verslag onmiddellik te de-klassifiseer om toerekenbaarheid en geregtigheid te verseker:
# Die Onafhanklike Polisie-Ondersoekdirektoraat het ses beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie se dwelmeenheid in hegtenis geneem vir roof en regsverydeling. Die beamptes het na bewering ‘n buitelander vir ‘n verkeersoortreding voorgekeer en op sy geld beslag gelê. Lizzy Suping van OPOD sê die beamptes word aangehou by die Boksburg-polisiestasie en hulle sal binnekort in die hof verskyn:
# Die Trump-administrasie het ‘n plan vir die heropbou van Gaza deur Arabiese leiers verwerp en sê die president staan by sy eie siening wat die uitsetting van Palestynse inwoners behels en die streek sal omskep in ‘n “riviera”, wat deur die Verenigde State besit word. Die Arabiese plan stel voor dat Hamas mag afstaan en sal Gaza se ongeveer twee-miljoen Palestyne toelaat om daar te bly, in teenstelling met Trump se voorstel. Die voorstel wil Gaza teen 2030 herbou. Tydens die eerste fase sal lewendige artillerie en meer as 50-miljoen ton rommel opgeruim word.
# Krieket: Nieu-Seeland is deur na die eindstryd van die Kampioenetrofee nadat hy Suid-Afrika met 50 lopies in Lahore verslaan het. Honderdtalle deur Rachin Ravindra en Kane Williamson het die Swart Pette, wat die toernooi in 2000 gewen het, gehelp om ‘n reuse 362 vir ses te behaal. Lungi Ngidi het drie paaltjies geneem. In antwoord kon die Proteas nie met die lopiewedloop byhou nie en het tekortgeskiet met 312 vir nege. David Miller was onoorwonne op 100 van 64 balle. Nieu-Seeland pak Indië in Sondag se eindstryd in Doebai.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-672-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-916-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….