Nuus 06:00
BULLETIN 4 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Gesondheid vergader met organisasies oor die MIV/Vigs-befondsingskrisis
# Brandstofpryse daal effens in Maart
# En krieket: Daar is net vier spanne oor in die Kampioenetrofee
# Die Gesondheidsdepartement gaan dié week met nie-regeringsorganisasies vergader oor die uitwerking van Amerika se befondsings-besnoeiings vir MIV/Vigs- en TB-programme. Hulle sal ingelig word oor die regering se reaksie op die krisis. Woordvoerder Foster Mohale het pasiënte wat MIV-behandeling van die betrokke Amerikaans-befondsde sentrums ontvang, gevra om hulle behandeling by openbare gesondheidsinstellings voort te sit:
# Die Sentrale Energiefonds sê motoriste kan in Maart ‘n geringe daling in brandstofpryse verwag. Die prys van 95-oktaan loodvrye petrol sal met ses-sent verminder, terwyl 93-oktaan-loodvrye petrol met ses-sent per liter sal styg. Dieselpryse sal na verwagting met 16-sent per liter daal. Die fonds sê die swakker Amerikaanse dollar en die laer wêreldolieprys het tot die positiewe uitkyk bygedra. Die amptelike veranderings in die brandstofprys sal Woensdag bekend gemaak word.
# AfriForum het die besonderhede oor agt plaasmoorde wat tussen Oktober en Desember 2024 plaasgevind het aan die minister van Polisie, Senzo Mchunu, beskikbaar gestel, soos deur die ministerie versoek. Dit volg nadat AfriForum die SAPD se data betwis het waarin beweer word daar was slegs een plaasmoordvoorval. Die burgerregtegroep voer aan dat Mchunu die krisis as onbelangrik afmaak en dring aan op regeringsamewerking om landelike misdaad te bekamp. Jacques Broodryk van AfriForum sê as plaasaanvalle ignoreer word, is dit ‘n teken van disrespek teenoor slagoffers se families:
# Die DA maan die stadsraad van Johannesburg om sy nuwe munisipale verordening oor geslote kringtelevisie-stelsels te heroorweeg. Die regulasie vereis dat inwoners en ondernemings met sulke stelsels wat openbare plekke verfilm, geregistreer moet word. Die party dring aan op behoorlik openbare raadpleging en deursigtigheid, en wys daarop dat sulke verordenings tot hoër kostes, meer rompslomp en boetes kan lei vir mense wat hulle eiendom wil beskerm. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA vra vir beter toesig en meer beskerming van inwoners se regte:
# Hamas beskuldig Israel dat hy probeer om die skietstilstandooreenkoms in duie te laat stort, en noem die besluit om humanitêre hulp te staak goedkoop afpersing en ‘n oorlogsmisdaad. Israel het humanitêre voorrade aan Gaza afgesny om Hamas te dwing om ‘n verandering in die skietstilstandooreenkoms te aanvaar, om die vrylating van gyselaars moontlik te maak sonder die onttrekking van Israelse troepe. Nege-en-vyftig gyselaars is steeds in Gaza na die oorhandiging van vier liggame verlede week. Hamas het ‘n beroep op bemiddelaars gedoen om Israel te dwing om sy strafmaatreëls te staak.
# Krieket: Die Kampioenetrofee-toernooi het die uitspeelronde gehaal en slegs vier van die agt spanne bly oor. Indië het eerste geëindig in Groep A en Nieu-Seeland tweede. Die Proteas het Groep B gewen, gevolg deur Australië. Indië en Australië pak mekaar vandag in die eerste halfeindstryd in Doebai en Suid-Afrika en die Swartpette sal sake môre uitspook in Lahore, Pakistan. Die eindstryd vind Sondag in Doebai of ‘n Pakistanse stad plaas, afhangend of Indië daarin speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-457-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-892-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….