Nuus 06:00
BULLETIN 10 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê Suid-Afrika se besluit om Israel hof toe te vat, spreek boekdele
# Die DA beweer maatskaplike toelaes sal verdwyn indien die ANC herkies word
# En, president Cyril Ramaphosa gaan die lofrede lewer by Peter Magubane se begrafnis
# Suid-Afrika se besluit om Israel na die Internasionale Geregshof te neem, spreek boekdele oor die waarde wat die land aan die handhawing van menseregte heg. Dit is die mening van die politieke ontleder Mpumelelo Mkhabela. Suid-Afrika beskuldig Israel van volksmoord in sy veldtog teen Hamas in Gaza. Hy het die hof gevra om verskeie opdragte uit te reik, ondermeer dat Israel onmiddellik sy Gaza-offensief opskort. Mkhabela sê die saak is een van universele belang, en een wat definitiewe antwoorde vereis op pertinente vrae oor die verpligtinge van state teenoor mense, ongeag hul ras, godsdiens, burgerskap en woonplek.
# Die leier van die DA, John Steenhuisen sê die bewering van president Cyril Ramaphosa dat maatskaplike toelaes waarskynlik sal verdwyn indien die ANC die komende verkiesing verloor, is ‘n leuen. Steenhuisen beweer daarenteen maatskaplike toelaes sal verdwyn indien die ANC herkies word. Hy sê weens die ANC se plundery takel die regering maatskaplike toelaes en die kinderondersteuningstoelaag het die afgelope dekade dramaties verswak. Steenhuisen vra Suid-Afrikaners om vir ʼn nuwe regering te stem om te verseker maatskaplike toelaes verdwyn nie in die vergetelheid van die ANC se korrupsie nie:
# Eskom het die Stad Tshwane in kennis gestel van groot instandhoudingswerk aan die Bronkhorstspruit-verspreidingsnetwerk wat vir Saterdag geskeduleer is. Die instandhoudingswerk sal 13 uur duur, van sewe die oggend tot agtuur die aand, en om veiligheidsredes noodsaak dit ‘n kragonderbreking. Die stad se woordvoerder, Selby Bokaba, doen ‘n beroep op inwoners om alle kragtoevoerpunte gedurende hierdie tydperk as lewendig te beskou:
# Twee mense wat in hegtenis geneem is vir die moord op ʼn omgewingsgesondheidspraktisyn van Stad Kaapstad, sal vandag in die Landdroshof in die Strand verskyn. Die Wes-Kaapse polisie se Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade het hulle aangekeer vir Maandag se moord op Bongeka Bidi in die munisipale parkeergebied in die Strand. Die verdagtes het in ʼn wit Opel Astra van die toneel gevlug. Polisiewoordvoerder Frederick van Wyk, sê veelvoudige ooggetuieverslae is bekom en die wegkom-motor is suksesvol uitgeken:
# Krieket: Die tweede seisoen van die SA20 skop vanmiddag 5.30 af in Gqeberha, waar die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, die Joburg Super Kings op St Georgepark sal verwelkom. Die Proteas se T20-kaptein, Aiden Markram, sal weer die tuisspan aanvoer, terwyl die voormalige Protea-kaptein Faf du Plessis die besoekers sal lei. Die ses spanne in die kompetisie sal sake uitspook vir prysgeld van altesaam 70-miljoen-rand. Die wenners sal 34-miljoen-rand verdien en die naaswenners 16,25-miljoen-rand, terwyl die spanne wat derde en vierde eindig elk 8,9-miljoen-rand ontvang.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-696-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-28-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte, president Cyril Ramaphosa gaan vandag in Johannesburg die lofrede lewer, by die provinsiale amptelike begrafnis van die anti-apartheidsfotograaf, dokter Peter Magubane. Die 91-jarige fotograaf, wat wêreldwyd bekendheid verwerf het vir sy foto’s wat die geweld van apartheid gedokumenteer het, is verlede Maandag dood. Hy was ook ‘n hoogaangeskrewe lid van die Nasionale Orde van Luthuli. In sy huldeblyk aan Magubane, het Ramaphosa gesê sy prosaïese passie is aangedryf deur wat hy in sy hart gevoel het asook dit wat hy deur sy lens gesien het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….