Nuus 07:00
BULLETIN 3 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ndabeni-Abrahams sê die regering sal spaza-winkels bystaan
# Streng maatreëls is nodig om die verspreiding van bek-en-klouseer te voorkom
# En dis die Oscars in Hollywood
# Die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, sê die regering sal spazawinkels en voedselverkooppunte wat nog nie aan nakomingsvereistes voldoen nie, bystaan. Ná verskeie voorvalle van voedselvergiftiging en sterftes weens voedseloordraagbare siektes, is spazawinkels en voedselverkooppunte versoek om teen die 28ste van verlede maand te registreer. Ndabeni-Abrahams sê 61 sakereguleringsbeamptes is gewerf om onder meer bewusmakingsveldtogte, navorsing en geo-kartering van spazawinkels en voedselverkooppunte, en ander funksies te hanteer:
# Die DA sê die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika se medium- en langtermynplanne om die bestendige voorsiening van brandstof by belangrike lughawens te verseker, wek diep kommer. Terwyl ‘n korttermyn-veiligheidsmaatreël ingestel is, is daar steeds geen betekenisvolle vordering vir ‘n volhoubare langtermyn-oplossing nie. Chris Hunsinger van die DA sê die party is ontsteld oor die voortdurende gebrek aan koördinasie en vordering in sleuteldepartmente wat verantwoordelik is vir die waarborg van Suid-Afrika se lugvaartbrandstofvoorraad:
# Die Departement van Landbou sê die uitbreking van bek-en-klouseer beklemtoon die noodsaaklikheid van streng beheermaatreëls om die siekte se verspreiding te voorkom. Positiewe toetsuitslae van beeste by ‘n diptenk in Mtubatuba het die virus se teenwoordigheid in KwaZulu-Natal bevestig. Die departement sê geen diere met gesplete hoewe mag aanvaar word uit die beperkte gebiede in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga nie. Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê dis belangrik om streng biosekerheidsprotokolle na te kom.
# Die EFF in Gauteng sê hy lei vandag ‘n optog na die kantore van Johannesburg Water in reaksie op die voortdurende en aanhoudende watertekorte wat inwoners raak. Die party eis ‘n onmiddellike einde aan waterbeperking en vra volhoubare en betroubare watervoorsiening aan alle inwoners. Die woordvoerder van die EFF Dumisani Baleni sê die Stad Johannesburg se wateruitdagings het vlakke bereik waar ‘n humanitêre krisis onvermydelik is as daar nie dringend ingegryp word nie:
# Motorsport: Die sesmalige MotoGP-wêreldkampioen, Marc Marquez, het Sondag koning gekraai in die seisoen se eerste Grand Prix in Thailand. Dis sy eerste sege in ʼn openingswedren sedert 2014. Die Spanjaard se jonger broer, Alex Marquez, was tweede en die tweemalige wêreldkampioen, Francesco Bagnaia van Italië was derde, met slegs Ducati’s op die podium. Die Suid-Afrikaner Brad Binder was agste. Marquez sê die beste manier om die seisoen af te skop, is om die eerste wedren te wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-852-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-869-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die 97ste Academy Awards is in Los Angeles aan die gang en word aangebied deur Conan O’Brien. Emilia Pérez het met 13 die meeste benoemings ontvang terwyl The Brutalist en Wicked albei met tien spog. Van die eerste wenners is Kieran Culkin, wat as beste ondersteunende akteur gekroon is vir sy rol in A Real Pain. Flow is die beste animasierolprent en In the Shadow of the Cypress die beste animasie-kortfilm. Wicked se kostuumontwerper, Paul Tazewell, is die eerste swart man wat die prys vir beste kostuumontwerp ontvang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….