Nuus 06:00
BULLETIN 26 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom het beurtkrag opgeskort
# Fikile Mbalula sê diegene wat kabinetsbesprekings laat uitlek moet aanspreeklik gehou word
# En rugby: Rassie sê Steven Kitshoff was ‘n ware spanspeler
# Eskom het beurtkrag opgeskort ná die suksesvolle herstel van opwekkingsvermoë. Die volledige storie is in ons volgende bulletin.
# President Cyril Ramaphosa het tradisionele leiers aangemoedig om die G20-beraad in November in Suid-Afrika te gebruik om die land se ryk kultuurerfenis ten toon te stel. Hy het by die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers benadruk dat kulturele diplomasie internasionale bande kan versterk, toerisme bevorder en ekonomiese geleenthede skep vir plaaslike gemeenskappe. Ramaphosa het tradisionele leiers aangemoedig om aktief aan gesprekke deel te neem wanneer die beraad vir die eerste keer in Afrika aangebied word:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê persone wat kabinetsbesprekings laat uitlek, moet wetlik tot verantwoording geroep word. Dit volg ná berigte dat die kabinet die minister van Finansies, Enoch Godongwana se hersiene begroting verwerp het omdat dit nie werkbaar is nie. ‘n Spesiale kabinetsvergadering het Maandag die uitgestelde begroting bespreek, insluitend ‘n voorgestelde BTW-verhoging van twee-persent. Mbalula sê die wette wat die kabinet beheer, is steeds van toepassing:
# Die vakbondfederasie Cosatu verwelkom die Tesourie se oorbetaling van 150-miljoen-rand aan die Suid-Afrikaanse Poskantoor, wat noodsaaklike hulp aan sukkelende werknemers bied. Woordvoerder Matthew Parks vra die Tesourie om die oorblywende geld vry te stel ingevolge die sakereddingspakket wat ‘n hof gelas het. Hy sê ‘n langtermyn-omkeerplan is noodsaaklik, insluitend bevoegde bestuur, die uitwissing van korrupsie en die uitbreiding van die Poskantoor se koerierdienste. Parks beklemtoon regeringsteun is noodsaaklik om te verseker die Poskantoor en die Posbank word finansieel bestendig en dra by tot die ekonomie.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bedrogaanklagte teen die voormalige Johannesburgse burgemeester Kabelo Gwamanda en sy medebeskuldigde Mduduzi Zondo voorlopig teruggetrek. Die twee word daarvan beskuldig dat hulle Soweto-inwoners bedrieg het om te betaal vir vals begrafnispolisse by die onderneming iThemba Lama Afrika, waar hulle direkteure was. Phindi Mjonondwane van die NVG sê die saak word verder ondersoek voordat strafregtelike vervolging hervat word:
# ‘n Onbekende siekte het die lewens van meer as 50 mense in die Demokratiese Republiek die Kongo geëis, met 419 gevalle wat sedert 21 Januarie aangeteken is. Die Wêreldgesondheidsorganisasie se Afrika-kantoor sê die eerste uitbreking was in die dorp Boloko in die noordweste van die land. Drie kinders het volgens berigte ‘n vlermuis geëet en gesterf ná simptone van hemorragiese koors. Die tydsverloop tussen die aanvang van die simptome en die dood was in die meeste gevalle 48-uur.
# Rugby: Die Springbokke se hoofafrigter, Rassie Erasmus, het die stut Steven Kitshoff beskryf as ‘n ware spanspeler nadat hy gister sy uittrede aangekondig het. Die 33-jarige Kitshoff moes noodgedwonge uittree weens ‘n ernstige nekbesering. Kitshoff het 83 toetse vir Suid-Afrika gespeel sedert sy debuut in 2016 en is ‘n tweemalige Wêreldbeker-kampioen. Erasmus sê sy spanmaats en afrigters het reuse-respek vir hom oor sy werksetiek, en hy sal altyd ‘n goeie ambassadeur bly van dit waarvoor die Springbokke staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-767-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-914-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….