Nuus 06:00
BULLETIN 25 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Beurtkrag is afgeskaal na fase 2
# Zelensky waarsku lande met Russiessprekende bevolkings
# En krieket: Bavuma glo die Proteas kan vandag Australië se gebrek aan ervaring uitbuit
# Beurtkrag is na die herwinning van meer eenhede afgeskaal tot fase twee tot verdere kennisgewing. Meer hieroor in ons volgende bulletin.
# Die MK-party verwerp die voorgestelde BTW-verhoging van twee persentasiepunte en is van mening dit sal die armes buite verhouding belas. Die party voer aan die regering moet alternatiewe inkomstebronne ondersoek in plaas daarvan om belasting van sukkelende burgers te verhoog. MK se sekretaris-generaal, Floyd Shivambu, het op ‘n nuuskonferensie die regering versoek om alternatiewe maniere te ondersoek om inkomste te verhoog, soos die aanpak van belasting-erosie en die vermindering van finansiële verliese in munisipaliteite en ander regeringsektore:
Die party het intussen bevestig dat Duduzile Zuma-Sambudla aangekla is van swak dissipline na ‘n onlangse vuiltaal-tirade gemik op die party se sekretaris-generaal, Floyd Shivambu. Zuma-Sambudla, die dogter van partyleier en voormalige president Jacob Zuma, het later twee openbare verskonings vir haar optrede uitgereik. MK se adjunk-sekretaris-generaal, Nombuso Mkhize, het gister by ‘n mediabyeenkoms bevestig dat Zuma-Sambudla amptelik aangekla is:
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi sê daar is 13 sleutelkwessies wat die provinsie moet aanspreek. Dit sluit in werkloosheid, water- en elektrisiteitstekorte, verswakkende infrastruktuur, misdaad en die vinnige groei van informele nedersettings. Hy het gisteraand die provinsiale rede in Tshwane gelewer. Lesufi sê die provinsie is in lyn met die drie strategiese prioriteite van die mediumtermyn-ontwikkelingsplan, dryf inklusiewe groei en werkskepping, verminder armoede en pak die hoë lewenskoste, en bou ‘n bekwame, etiese en ontwikkelingstaat:
# Die IVP het ‘n veldtog van stapel gestuur om Ithala te verdedig te midde van die dreigende sluiting van die KwaZulu-Natalse bank. Die party het ‘n versoekskrif by die Reserwebank ingedien waarin gevra word dat die bank se likwidasie gestaak en ‘n banklisensie goedgekeur word. IVP-leier Velenkosini Hlabisa sê hulle beskerm die erfenis van die ontslape partyleier, prins Mangosuthu Buthelezi, wat die bank gestig het, en verdedig die weerlose mense wat daarop staatmaak.
# Die president van Oekraïne, Volodymyr Zelenskyy, waarsku lande met ‘n beduidende Russies-sprekende bevolking kan volgende in Moskou se visier wees. Hy sê die gevaarlikste oomblik is vir lande in Oos-Europa met mense met Russiese wortels, nie omdat hulle self enige bedreiging inhou nie, maar omdat die Kremlin hul veiligheid sal gebruik as ‘n verskoning vir ‘n inval. Hy het Pole, Slowakye, Letland, Moldawië en Estland genoem as van die lande wat moontlik bedreig kan word indien Oekraïne tot ‘n val kom.
# Krieket: Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, glo hulle kan Australië se onervare snelboulaanval uitbuit in vandag se Kampioeneliga-wedstryd in Rawalpindi, Pakistan. Die Aussies het kort voor die toernooi vyf ervare boulers verloor en die afgelope naweek 351 lopies afgestaan teen Engeland, maar kon tog die wenteiken haal. Bavuma sê hulle sal Australië nooit onderskat nie. Hulle nuwe snelboulaanval bestaande uit Ben Dwarshuis, Nathan Ellis en Spencer Johnson, het gesamentlik nog net 17 internasionale eendagwedstryde gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-775-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-950-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….