Nuus 06:00
BULLETIN 9 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa hou vol die ANC bly die party van keuse
# Blade Nzimande sê NSFAS-lenings en beurse het toegeneem onder sy leierskap
# En, die Verenigde Nasies veroordeel die jongste dodelike aanvalle in Oekraïne se Donetsk-streek
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê die regerende party is daar om Suid-Afrikaners te dien en bly die party van keuse. Hy het gister tydens die koeksny-seremonie by die Mbombela-stadion in Mpumalanga gepraat, tydens die vieringe van die ANC se 112de bestaansjaar. Ramaphosa sê die regerende party het tot stand gekom om mense in die land te verenig en dit het gelei tot die beëindiging van apartheid:
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het onder sy leierskap aansienlik meer lenings en beurse toegestaan, met ondersteuning aan meer as ‘n miljoen studente. Hy wys op die indrukwekkende styging vanaf 8,96-miljard-rand in 2014 tot 47-miljard-rand verlede jaar. Nzimande skets die student-gesentreerde benadering, verbeterde prosedures en voortgesette pogings om die 2024 akademiese jaar seepglad te laat verloop. Volgens Nzimande is hy steeds koersvas in sy toewyding tot pogings teen korrupsie en om te verseker daar is bystand aan minderbevoorregte studente:
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging skryf die werkloosheidskrisis onder dokters toe aan swak beplanning en korrupsie deur regeringsamptenare. Die Vakbond van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging berig meer as 800 gekwalifiseerde dokters is werkloos weens begrotingbeperkings in die Departement van Gesondheid. ʼn Woordvoerder van SAMA, Mvuyisi Mzukwa, beskryf swak regering en leierskap as belangrike kwessies, asook ʼn tekort aan menslike hulpbronne vir gesondheid op grondvlak.
# Die Johannesburgse Metropolisie het oor die feestyd een-duisend-113 motoriste aangekeer vir bestuur onder die invloed van alkohol, en 221 vir oormatige spoed. Die departement het streng maatreëls ingestel, wat padblokkades en verhoogde patrollering insluit, om padveiligheid te verseker. Hy sê die inhegtenisnemings onderstreep die proaktiewe pogings om gevaarlike bestuur aan bande te lê en wet en orde op die paaie te verseker. Angie Mokasi van die JMPD moedig alle motoriste aan om by verkeersregulasies te hou en veiligheid voorop te stel.
# Die Verenigde Nasies se Kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Sake het die onlangse toename in aanvalle op stede in Oekraïne ten sterkste veroordeel. In die jongste aanval in die Donetsk-streek is meer as 10 burgerlikes dood, waaronder vyf kinders. Die VN sê hy het inligting oor byna 120 burgerlikes wat sedert die 29ste van verlede maand regoor Oekraïne dood is, met net minder as 480 gewondes. Die VN se Humanitêre Koördineerder vir Oekraïne, Denise Brown, sê onoordeelkundige aanvalle op burgerlike gebiede is onaanvaarbaar en volgens internasionale humanitêre reg verbode.
# Krieket: Die toporde-kolwer van Sunrisers Eastern Cape, Dawid Malan, sê hulle eerste doelwit vir vanjaar se SA20 is om die rondomtalie-fase te oorleef. Die verdedigende kampioen skop die seisoen môre tuis in Gqeberha af teen Joburg Super Kings. St Georgepark sal na verwagting stampvol wees en Malan sê hy sien regtig daarna uit om voor die stadion se beroemde orkes te speel. Die Engelse speler glo ʼn paar vroeë oorwinnings sal hulle momentum gee vir die res van die kompetisie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-624-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-32-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….