Nuus 06:00
BULLETIN 28 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie dien ’n klagte in oor die uitlek van ‘n getuie se identiteit
# Benjamin Netanyahu sê Iran sal bo-aan die agenda wees wanneer hy vandag met Donald Trump vergader
# En rugby: Die Stormers-stut, Ntuthuko Mchunu, keer terug na die Bok-kamp
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, Mbuyiseli Madlanga, sê strafregtelike aanklagte sal aanhangig gemaak word nadat die identiteit van ‘n beskermde getuie na bewering doelbewus uitgelek is. Madlanga sê die getuie het anoniem in ‘n geslote sitting voor die kommissie getuig. Hy sê die kommissie sal regstappe doen teen die persoon wat verantwoordelik is vir die openbaarmaking:
Die kommissie het intussen die hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, ondervra oor die bedrogsaak teen generaal-majoor Nosipho Madondo. Die getuienisleier, Mahlape Sello, het gevra watter bedrieglike gedrag Madondo na bewering gepleeg het met betrekking tot haar oorplasing na ‘n ander pos. Johnson het gesê die bewerings is vervat in verklarings in die ondersoekdossier, nie in die parlementslid, Fadiel Adams, se klagte nie. Sy het geweier om verder uit te brei en gesê die saak word tans hersien:
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging het die strafregtelike aanklagte teen die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, asook die hoof van die polisie se Tegniese Ondersteuningsdienste by Misdaadintelligensie, Dineo Mokwele en hul medebeskuldigdes voorlopig teruggetrek. Die besluit volg na vertoë deur die beskuldigdes en advies deur die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie dat verdere ondersoeke nodig is voordat ‘n finale besluit geneem kan word. Die Openbare Vervolger het gelas dat die saak nie weer geregistreer, of nuwe aanklagte aanhangig gemaak kan word, sonder skriftelike goedkeuring nie.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê voordurende verstedeliking, bevolkingsgroei en migrasie plaas toenemend druk op die onderwysinfrastruktuur en openbare hulpbronne. Leerderinskrywings het tussen 2025 en 2026 met meer as 23-duisend toegeneem. Dit veroorsaak ‘n tekort aan ongeveer 19 bykomende skole, wat elk nagenoeg ‘n duisend leerders moet akkommodeer. Aanlyn toelatings vir graad 1- en graad 8-leerders vir die 2027 akademiese jaar open volgende Woensdag. Maile sê die aanlyn toelatingstelsel het leerdertoelatings in die provinsie grondliggend verander:
# Die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu sê Iran sal bo-aan die agenda wees wanneer hy vandag met president Donald Trump in Washington vergader. Die twee leiers sal vir die agtste keer vergader sedert Trump weer verkies is, en hul eerste sedert Februarie, net voordat Israel en die VSA ‘n gesamentlike veldtog teen Teheran van stapel gestuur het. Netanyahu sê sy eerste prioriteit is om die veiligheid, sterkte en toekoms van Israel te verseker. Tydens sy besoek sal Netanyahu ook die begrafnis van die oorlede Republikeinse senator, Lindsey Graham, bywoon.
# Rugby: Die Stormers-stut Ntuthuko Mchunu het by die Springbok-kamp in Johannesburg aangesluit, blykbaar weens kommer oor die fiksheid van die ervare nommer een Ox Nché. Mchunu het sy vierde toets vroeër vandeesmaand vir Suid-Afrika in die Nasieskampioenskap-wedstryd teen Skotland gespeel. Hy is aanvanklik aan die Stormers vrygestel vir volgende Vrydag se toerwedstryd teen die All Blacks. Die nasionale span berei voor vir volgende naweek se eenmalige toets teen Argentinië in Buenos Aires en die reeks teen Nieu-Seeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-500-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-73-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….