Nuus 06:00
BULLETIN 17 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# My Vote Counts begin vandag met sy hofsaak teen die Wet op Politieke Befondsing
# Die Stad Tshwane waarsku oor ernstige watertekorte
# En rugby: Monster Energy is die nuwe energiedrankie-vennoot van die Springbokke
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof hoor van vandag tot Woensdag My Vote Counts se aansoek aan oor die grondwetlikheid van die Wet op Politieke Befondsing. Die organisasie sê die Wet voldoen nie aan sy grondwetlike doelwitte van deursigtigheid, openheid en aanspreeklikheid nie en moet versterk word. My Vote Counts wil hê die hof moet politieke partye en onafhanklike kandidate verplig om alle privaat skenkings bekend te maak, ongeag die bedrag. Dit vereis ook dat partye en kandidate die besteding van alle privaat skenkings verklaar.
ActionSA sê intussen hy gaan die aansoek teenstaan. Die woordvoerder van ActionSA, Matthew George, sê die aansoek wat My Vote Counts ingedien het, is ondeurdag in sy poging om skenkings en rapporteringsdrempels onderskeidelik te verlaag en te verwyder. Hy voeg by hulle is ten gunste van deursigtigheid in partybefondsing:
# Die EFF veroordeel ten sterkste die Department van Kommunikasie en Digitale Tegnologie se aansoek om 150-miljoen-rand van die SA Connect-program na die Suid-Afrikaanse Poskantoor oor te dra. Minister Solly Malatsi sê hy het Nasionale Tesourie genader om die hertoewysing as ‘n korttermyn-stap te doen om die Poskantoor se onmiddellike operasionele uitdagings die hoof te bied. Die EFF sê in stede daarvan om digitale transformasie te prioritiseer, is die ANC-DA regering nou besig om fondse van kritieke konnektiwiteitsprojekte te ontneem om ‘n mislukte besigheidsreddingsproses te befonds.
# Die Stad Tshwane sê hy het die gebiede geïdentifiseer wat die meeste water gebruik en wat die moontlikheid van wateronderbrekings vir verbruikers verhoog. Die geïdentifiseerde gebiede sluit in Grootvlei, Montana, en Sinoville waar die aanvraag groter is as wat die metro kan voorsien. Metro woordvoerder, Selby Bokaba, sê die watervlak-een beperkings wat voorheen ingestel is, is nooit opgeskort nie en is dus nog steeds van krag:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê Iran is steeds die grootste bron van onbestendigheid in die Midde-Ooste. Hy het Israel die naweek besoek oor die brose skietstilstand tussen Israel en Hamas. Hy beplan ook om Russiese amptenare in Saoedi-Arabië te ontmoet om die beëindiging van die oorlog in Oekraïne te bespreek. Rubio sê Iran staan agter elke terreurgroep en elke daad van geweld wat vrede en bestendigheid bedreig:
# Rugby: SA Rugby het ‘n vierjaar-borgskapooreenkoms met die energiedrankvervaardiger Monster Energy gesluit vir die amptelike energiedrankie-vennootskap met die Springbokke. Die ooreenkoms sluit ook die Springbok-vroue, Junior Bokke en die Springbok Sewes mans- en vrouespanne in. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê Monster Energy se passie vir die sport ondersteun hul waardes, en hulle sien uit daarna om saam te werk om sukses op die veld te behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-125-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-879-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….