Nuus 06:00
BULLETIN 11 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema beskuldig Paul Kagame dat hy die M23-rebelle ondersteun
# Die MK-party sê AfriForum wil Suid-Afrika doelbewus verswak
# En gemengde gevegskuns: Du Plessis het 61,5-miljoen-rand verdien
# Die EFF-leier, Julius Malema sê die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Demokratiese Republiek die Kongo is roekeloos en nie ‘n vredesending nie. Malema het in die Parlement hulde gebring aan die 14 SANW-soldate wat gesterf het en gee swak leierskap die skuld vir hul dood. Hy het die president van Rwanda, Paul Kagame beskuldig dat hy die M23-rebelle ondersteun:
Die ACDP vra intussen vir ‘n parlementêre ondersoek na die dood van die soldate in die DRK. Woordvoerder Steve Swart het tydens die parlementêre debat gesê soldate van die SANW was nie behoorlik toegerus vir die vredesending nie en daar was ‘n gebrek aan belangrike hulpbronne, soos die Rooivalk-aanvalshelikopter, vraglugsteun en gevorderde artillerie:
# Die MK-party sê AfriForum se pogings om die Amerikaanse regering te oortuig om ekonomiese strafmaatreëls teen Suid-Afrika in te stel, is ‘n doelbewuste poging om die staat te verswak. Die party het ‘n saak van hoogverraad teen die drukgroep geopen weens president Donald Trump se besluit om finansiële hulp aan Suid-Afrika te staak. Hy het ook vlugtelingstatus vir Afrikaners aangebied. MK se adjunkpresident, John Hlophe, sê die regering moet diplomatieke en regstappe doen om die vyandige Amerikaanse optrede teen te staan:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy is bekommerd oor beweerde korrupsie en omkopery waarby ‘n senior amptenaar van die Departement van Binnelandse Sake betrek word. Die waarnemende hoofdirekteur van Werknemerbetrokkenheid, Percy Tshabane, het na bewering omkoopgeld gevra van diensverskaffers wat verantwoordelik is vir die voorsitters van tugverhore en die vervolging van sake. Hy het na bewering geweier om fakture goed te keur tensy omkoopgeld betaal is. Die vereniging doen ‘n beroep op die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber om beslissend op te tree teen korrupsie.
# Gemengde gevegskuns: Suid-Afrika se middelgewig-wêreldkampioen van die UFC, Dricus du Plessis, neem ‘n stewige 61,5-miljoen-rand huis toe nadat hy Sean Strickland Sondag in Sydney, Australië, verslaan het. Du Plessis het die Amerikaner oortuigend geklop in hulle herontmoeting nadat hy die gordel in Januarie verlede jaar by hom afgeneem het. Die drie beoordelaars het die geveg met 50-45, 50-45 en 49-46 aan Du Plessis toegeken. Strickland glimlag tog ten spyte van sy gebreekte neus, want sy prysgeld beloof 19,9-miljoen-rand.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-339-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-911-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Nuwe huwelike in China het verlede jaar tot ‘n rekordlaagtepunt gedaal. Sowat 6,1-miljoen paartjies het hul huwelike geregistreer, ‘n daling van 20,5-persent vanaf 2023. Die dalende aantal huwelike en geboortes bied ‘n ernstige uitdaging vir Beijing, met ‘n krimpende arbeidsmag en ‘n bevolking wat vinnig verouder. Die data toon ook ‘n effense toename in die aantal egskeidings. China het in 2021 ‘n “afkoeltydperk” van 30 dae ingestel vir mense wat wil skei ondanks kritiek dat dit nou moeiliker is vir vroue om uit ʼn gebroke huwelik of selfs huwelike waarin hulle misbruik word, te ontsnap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….