Nuus 06:00
BULLETIN 7 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika sal nie geboelie word nie
# Busa sê die Onteieningswet tref voorsorg teen grondgrype
# En die VN-hoof waarsku die konflik in die DRK kan na die hele streek versprei
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika sal nie geboelie word nie en sal opstaan in nasionale belang en vir sy soewereiniteit. Dit is in regstreekse reaksie op die Amerikaanse president Donald Trump se beskuldiging dat die regering grond onwettig konfiskeer. Ramaphosa het Donderdagaand die staatsrede in Kaapstad gelewer en gesê die regering is bekommerd oor die potensiële uitwerking van die Amerikaanse besluit om van sy befondsing vir MIV- en TB-programme in Afrikalande op te skort:
Ramaphosa sê ook die dringendste taak vir die regering van nasionale eenheid is om die ekonomie te laat groei en armoede te verminder. Ramaphosa sê die regering gaan nog ‘n fase van hervormings van stapel stuur om die ekonomiese groei bo drie-persent te probeer lig. Hy sê die regering gaan oor die volgende drie jaar meer as 940-miljard-rand aan infrastruktuur bestee:
# Die uitvoerende hoof van Business Unity South Africa, Khulekani Mathe, gee die versekering die Onteieningswet het ingeboude robuuste beskermingsmaatreëls om arbitrêre grondgrype te voorkom. Mathe sê die wet laat onteiening toe slegs nadat alle redelike verkooponderhandelings misluk het en is ’n laaste uitweg. Mathe sê hoewel daar kommer is oor die klousule oor nul-vergoeding, sal die billikheid daarvan deur howe bepaal word. Hy vra vir waaksaamheid om die implementering te monitor, en sê vrese oor grondgrype is ongegrond.
# Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het oor vyf jaar waterverliese van meer as drie-miljard-rand aangeteken weens swak infrastruktuuronderhoud, met voortdurende onderbrekings wat die inwoners raak. Die DA-lid, Kingsol Chabalala sê ondanks die besteding van 140-miljoen-rand aan opgraderings, slaag die munisipaliteit steeds nie daarin om lekkasies en verswakkende stelsels reg te maak nie. Hy vra dringende optrede, aanspreeklikheid en gemeenskapsbetrokkenheid om hierdie krisis op te los:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sê die konflik in die Demokratiese Republiek die Kongo loop die gevaar om die hele streek te verswelg. Gevegte tussen die Rwandees-gesteunde M23 en Kongolese magte het in Januarie toegeneem, met die rebelle wat die streekhoofstad, Goma, verower het. Guterres sê die talle verslae oor menseregtevergrype, insluitend seksuele en geslagsgeweld, gedwonge werwing en die ontwrigting van lewensreddende hulp is kommerwekkend. Hy sê die krisis in die oostelike DRK moet nou beëindig word.
# Krieket: Australiese keurders het hulle hande vol om die groep vir die Kampioenetrofee te kies. Kaptein Pat Cummins, nog ‘n snelbouler, Josh Hazlewood, en die veelsydige Mitchell Marsh is almal beseer terwyl nog ‘n veelsydige speler, Marcus Stoinis, pas sy uittrede uit internasionale eendagkrieket aangekondig het. Dit beteken vier plaasvervangers vir die toernooi wat die 19de begin. Die keurders sê egter die vier se afwesigheid bied ‘n gulde geleentheid vir ander om vir die verdedigende kampioen te presteer op die internasionale verhoog.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-722-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-858-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….