Nuus 06:00
BULLETIN 5 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê minister Motshekga moet afgedank word
# Die EFF eis die onmiddellike terugkeer van die soldate in die DRK
# En FlySafair-kliënte word verseker van geen onderbrekings
# Die DA sê met die omstandighede in die Demokratiese Republiek die Kongo wat agteruitgaan, vra hy opnuut vir die onmiddellike onttrekking van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Veertien soldate is verlede maand dood in gevegte met die Rwandees-gesteunde M23-rebelle. Chris Hattingh van die DA het aan die Parlement se Verdedigingskomitee gesê die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, het nie aanspreeklikheid aanvaar nie en moet afgedank word:
Die EFF-parlementslid, Carl Niehaus, beskuldig intussen die regering daarvan dat hy soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag na die Demokratiese Republiek die Kongo stuur sonder behoorlike toerusting en hulpbronne. Niehaus het tydens ‘n gesamentlike vergadering van die Parlementêre Komitees oor Verdediging beweer die soldate is nie op ‘n vredesending nie, maar is daar om president Cyril Ramaphosa se beweerde minerale belange te beskerm. Hy vra ook vir die bedanking van die minister van Verdediging, Angie Motshekga:
# FlySafair sê sy bedrywighede sal sonder ontwrigting voortgaan ná sanksies van die Lugdienslisensiëringsraad. Die raad het die lugdiens 12 maande tyd gegee om aan ‘n tegniese interpretasie van nasionaliteitsbepalings te voldoen nadat bevind is FlySafair voldoen nie aan die vereiste dat 75-persent van sy stemreg deur Suid-Afrikaanse burgers gehou moet word nie. Woordvoerder Kirby Gordon verseker kliënte alle vlugte sal soos geskeduleer voortgaan terwyl hulle werk maak om die aangeleentheid reg te stel:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het bekendgemaak Suid-Afrika hervat na 16 jaar die uitvoer van vars appels na Thailand. Steenhuisen sê die mark is sedert 2008 gesluit weens aangepaste handelsvereistes en hou steeds groot potensiaal in. Volgens die minister bestaan Suid-Afrika se appelbedryf uit 50-persent produksie-uitvoere en ondersteun meer as 32-duisend werksgeleenthede op plase. Hy is vol lof oor die hervatting omdat dit geleenthede bevorder in landbouverwerking, logistiek en indiensneming, veral in sektore wat uitvoer-gerig is.
# Die Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir Vervoer, Kenny Kunene het bevestig die Rea Vaya-busdiens sal vandag hervat word. Die diens is gister opgeskort nadat twee busbestuurders Maandagaand in Soweto doodgeskiet is. Kunene het die voorval as ‘n beplande sluipmoord beskryf. Hy sê die Johannesburgse Metropolisiedepartement sal as ‘n proaktiewe ingryping ontplooi word om busbestuurders te begelei en te beskerm. Kunene sê hierdie tragedie is ‘n ernstige oorlogsverklaring.
# Rugby: Die Bulle se skrumskakel, Bernard van der Linde, het ‘n tweejaar-kontrak onderteken met die Engelse klub Bath vanaf die einde van die seisoen. Die 24-jarige het slegs vier Curriebekerwedstryde vir die Blou Bulle gespeel sedert sy aankoms in 2022 en wou graag meer speeltyd kry. Bath word afgerig deur die gewese hulpafrigter van die Bulle en die Springbokke, Johann van Graan, wat meen die 24-jarige Van der Linde het reuse-potensiaal. Hy gaan na verwagting die Haaie-speler Louis Schreuder vervang, wie se kontrak die einde van die seisoen verstryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-889-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-841-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-4-sent per vat
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….