Nuus 06:00
BULLETIN 4 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê AfriForum versprei vals bewerings oor Suid-Afrika
# Die Parlement sê Trump verstaan nie Suid-Afrika se beleid oor grondsake nie
# En gemengde gevegskuns: Dricus Du Plessis hoop om binnekort ‘n titelgeveg in Suid-Afrika aan te bied
# Die Presidensie het AfriForum gekritiseer oor sy standpunt oor die Onteieningswet en sê dit stel voortdurend nie net Suid-Afrika se posisie nie, maar ook sy wetgewing verkeerd voor. Dit is in reaksie op die organisasie se opmerkings oor die Amerikaanse president Donald Trump se dreigement dat Amerika alle befondsing aan Suid-Afrika oor sy onteieningsbeleid sal staak. AfriForum het ’n beroep op Trump gedoen om eerder senior ANC-leiers te straf en nie die burgers nie. President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het aan Newzroom Afrika gesê AfriForum veg teen die Grondwet:
Die parlementêre portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking het intussen die land se vinnige reaksie op die Amerikaanse president Donald Trump se misverstand oor die Suid-Afrikaanse beleid oor grondsake verwelkom. Die voorsitter, Supra Mahumapelo, sê Trump aanvaar bloot dat swart Suid-Afrikaners wie se grond met geweld, moord of inhegtenisnemings afgevat is, nie deur die demokratiese regering ondersteun moet word nie. Hy sê die grondkwessie was nog altyd die kern van die land se stryd.
# Business Leaders SA sê die komende staatsrede en begrotingstoespraak is belangrik om ekonomiese groei in die regering van nasionale eenheid se hervormingsagenda aan te moedig. Hulle wil hê president Cyril Ramaphosa moet fokus op drie-persent groei teen die einde van die jaar en beter vraglogistiek. Ander prioriteite sluit in die herstel van die strafregstelsel, die verbetering van dienslewering, en die opgradering van waterinfrastruktuur. Uitvoerende hoof Busisiwe Mavuso sê in haar weeklikse nuusbrief sy glo sterk leierskap en ‘n duidelike beleid is nodig vir ekonomiese groei en werkskepping.
# Die eerste fase van die herstelwerk van 194-miljoen-rand aan Lillian Ngoyi-straat in Johannesburg sal teen Augustus voltooi wees, en volle herstelwerk ‘n jaar later. Die voormalige Breëstraat is in 2023 verwoes in ‘n metaangas-ontploffing. Die burgemeesterskomiteelid vir Vervoer, Kenny Kunene, het aan die SABC gesê die geskil tussen die stad en die kontrakteur is opgelos:
# Gemengde gevegskuns: Die UFC se middelgewig-wêreldkampioen, Dricus du Plessis, wat Sondag in Sydney, Australië, weer teen die Amerikaner Sean Stricland te staan kom, hoop om die byeenkoms later vanjaar na sy vaderland, Suid-Afrika, te bring. Du Plessis het Strickland in Januarie verlede jaar geklop om die wêreldtitel in te palm, en het dit in Augustus verdedig teen die Nieu-Seelander Israel Adesanya. Hy glo die geleentheid sal na Suid-Afrika kom, en hoop dit gebeur vroeër eerder as later.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-539-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-814-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte: Meer as 30 bedreigde paddatjies is by die Londense dieretuin gebore ná ‘n dramatiese reddingsending van elf-duisend-kilometer. Die Darwin-padda, vernoem na Charles Darwin, is as bedreig geklassifiseer nadat ‘n dodelike swam in hul habitat ontwikkel het. Dit was ‘n moeilike taak om die bedreigde amfibieë na die VK te vervoer en het ‘n reis na Chili en ‘n moeisame soektog na die klein wesentjies vereis, aangesien volgroeide paddas minder as drie-sentimeter lank is. Elf manlike paddas het die 33 paddatjies tot met hul geboorte gedra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….