Nuus 06:00
BULLETIN 3 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Weermag is onseker oor die repatriasie van die 14 soldate in Goma
# Die DA vra dat die militêre teenwoordigheid by die Staatsrede ingeperk word
# En krieket: Indië klop Suid-Afrika om as die o.19-vroue T20-wêreldkampioene gekroon te word
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê die toenemende konflik in die Demokratiese Republiek die Kongo maak dit moeilik vir die repatriasie van die liggame van die 14 soldate wat in Goma dood is. Die soldate was deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-sending en die Verenigde Nasies se ontplooiing van ‘n vredesmag om bestendigheid te bevorder. Die SANW sê dit is moeilik om te sê hoe lank die repatriasieproses van die liggame in Goma gaan neem weens die huidige omstandighede.
Die DA sê intussen hy het aan die Speaker van die Parlement Thoko Didiza geskryf om te vra dat die militêre parade vir Donderdag afgeskaal moet word. Die DA se Chris Hattingh sê hy het spesifiek gevra vir die kansellasie van die verbyvlug deur die Suid-Afrikaanse Lugmag, gegewe die benarde situasie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-troepe in die Demokratiese Republiek die Kongo:
# Die vakbond Solidariteit doen ‘n beroep op die regering om ‘n meer buigsame benadering tot Swart Ekonomiese Bemagtiging in die regsberoep te volg. Die vakbond meen huidige SEB-kodes beperk geleenthede en mededinging vir kleiner regsfirmas. Solidariteit bepleit ‘n stelsel wat groei en vernuwing bevorder sonder om té beperkend te wees. Riaan Visser van die vakbond vra vir veranderinge wat die regsektor meer toeganklik en inklusief vir alle Suid-Afrikaners sal maak.
# ActionSA in Ekurhuleni het die aanvaarding van die mosie in die stadsraad verwelkom om munisipale grond beskikbaar te stel vir die dringende ontwikkeling van die KwaThema-polisiekantoor. ActionSA se Phillip Dolo sê die gemeenskap van KwaThema is sonder ‘n behoorlike polisiekantoor sedert dit 14 jaar gelede deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie as onbewoonbaar verklaar is. Hy sê die toestand van die kantoor het ‘n negatiewe effek op dienslewering:
# Krieket: Die verdedigende kampioen, Indië, het Suid-Afrika met nege paaltjies geklop om die o.19-vroue se T20 Wêreldbeker-eindstryd in Kuala Lumpur te wen. Die 19-jarige Gongadi Trisha het drie paaltjies geneem en Suid-Afrika tot 82 beperk nadat sy die loot gewen en gekies het om eerste te kolf. Trisha het geantwoord met ‘n onoorwonne 44 van 33 balle terwyl Indië die teiken in 11,2 boulbeurte gehaal het. Trisha het met 309 lopies as die hoogste puntemaker van die toernooi geëindig en is as die Speler van die Wedstryd en die Speler van die Toernooi aangewys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-763-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-801-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-47-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Sesjarige Yorkshire-terrier genaamd Mia het suksesvol herstel nadat sy ‘n trageale stent ontvang het by die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal. Mia het aan ‘n ernstige geval van trageale versaking gely, wat plaasvind wanneer die tragea platval en lugvloei belemmer. Dit veroorsaak simptome soos hoes, die vermindering van suurstof in die bloed en floutes. Mia se lugpyp is onder algemene narkose noukeurig gemeet met behulp van X-strale. Die toepaslike stentgrootte is van die VSA bestel omdat hierdie soort gespesialiseerde toestelle nie by UP aangehou word nie, aangesien dit nie dikwels gebruik word nie en ook weens die kostes daaraan verbonde .
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….