Nuus 06:00
BULLETIN 31 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank verlaag die repokoers tot 7,5 persent
# Die Spesiale Ondersoekeenheid ondersoek twee tenders in die Departement van Verdediging
# En daar is geen oorlewendes na die Washington-lugramp nie
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers tot 7,5-persent te verlaag, tree vandag in werking, terwyl handelsbanke se prima-uitleenkoers tot 11-persent daal. Die bank se president, Lesetja Kganyago, het die monetêre beleidskomitee se besluit aangekondig. Hy sê die komitee is nogtans bekommerd oor internasionale ekonomiese onsekerheid. Hy beklemtoon die besluit is daarop gemik om ekonomiese groei te steun te midde van voortgesette finansiële uitdagings:
Betterbond het intussen die Reserwebank se besluit verwelkom. Nasionale verkoopshoof Bradd Bendall sê die verlaging van 25 basispunte sal verband-terugbetalings vir huiseienaars vergemaklik en verligting bring vir kopers. Hy verwag die daling sal bekostigbaarheid in die eiendomsmark steun:
# President Cyril Ramaphosa het ‘n proklamasie onderteken wat die Spesiale Ondersoekeenheid magtig om bewerings van ernstige wanadministrasie te ondersoek wat verband hou met twee tenders in die Departement van Verdediging. Die tenders is vir voorraad- en deurlopende batebevestiging asook die verskaffing, lewering, installering en ingebruikneming van ‘n batebestuurstelsel. Die SOE sê daar sal ook gekyk word of die betalings aan die riglyne van die Nasionale Tesourie voldoen en of dit onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes of ‘n finansiële verlies vir die departement of die staat was.
# Richards Bay Minerals in KwaZulu-Natal het ‘n derde kragaankoopooreenkoms met Red Rocket South Africa onderteken voor die Overberg Windplaas-konstruksie in die Wes-Kaap. Die projek sal vanjaar begin en RBM se kweekhuisgasuitstralings met 30-persent verminder. RBM sal 230-megawatt van die plaas se 380-megawatt ontvang. Die onderneming sê hierdie ooreenkoms sal bydra tot sy hernubare energie-pogings en vorm deel van sy verbintenis om teen 2050 netto-nul-uitstralings te bereik.
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê daar is geen oorlewendes ná ‘n vliegtuigongeluk tussen ‘n American Airlines-stralervliegtuig en ‘n Black Hawk-weermaghelikopter in die Washington-gebied nie. Daar was 64 mense aan boord van die passasiersvliegtuig en drie in die militêre helikopter toe hulle naby die Ronald Reagan Nasionale Lughawe gebots en in die Potomac-rivier geval het. Minstens 40 liggame is tot dusver gevind. Trump sê die ongeluk is ‘n tragedie van aaklige afmetings:
# Rugby: Sam Prendergast begin op losskakel wanneer Ierland die verdediging van sy Sesnasies-kroon môre in Dublin teen Engeland afskop. Die 21-jarige sal sy buiging maak ten koste van Jack Crowley, wat bank toe skuif. Prendergast sal die ervare Jamison Gibson-Park se skakelmaat wees agter die pak met kaptein Caelan Doris op agsteman. Die waarnemende afrigter, Simon Easterby, het Rayn Baird ook op slot teruggebring en Garry Ringrose bo Robbie Henshaw gekies op buitesenter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-743-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-795-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….