Nuus 06:00
BULLETIN 30 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola vra vir ‘n onmiddellike skietstilstand en humanitêre toegang in die DRK
# Fedusa wil ‘n deeglike evaluering van alle SANW-sendings hê
# En die MK-party ondersteun Trump se leierskap om korrupsie te beveg
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, vra ‘n onmiddellike skietstilstand en humanitêre toegang in die Demokratiese Republiek die Kongo, waar gevegte in die ooste uitkring. Hy het aan die media gesê die regering steun die Afrika-unie en die Verenigde Nasies se oproepe dat alle partye vyandighede staak en terugkeer na die onderhandelingstafel. Lamola het lande wat die M23-rebelle steun, ook gevra om dit onmiddellik te staak:
Die vakbondfederasie, Fedusa doen intussen ‘n beroep op ‘n deeglike beoordeling van alle sendings waar soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontplooi word. Dit is om voldoende hulpbronne en hul veiligheid te verseker. Dertien weermagsoldate is dood in botsings met die Rwandees-gesteunde M23-rebelle in die Demokratiese Republiek die Kongo. Fedusa sê hy hoop die lewensverlies sal dien as ‘n wekroep vir die regering om sy benadering tot die bevoorrading en ondersteuning van die weermag te hersien.
# Die MK Party-parlementslid, David Mandla Skosana, het munisipale uitvoerende beamptes en munisipale rade gekritiseer oor die versuim om openbare fondse teen plundering en verkwistende uitgawes te beskerm. Skosana se opmerkings by die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge beklemtoon die groeiende frustrasie rondom finansiële wanbestuur. Hy is van mening dat Suid-Afrika ‘n sterk leier benodig, soos die Amerikaanse president Donald Trump:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy sê die uitbranding van 51 Putco-busse in Mpumalanga is ‘n daad van ekonomiese sabotasie, gegewe die kritieke rol wat die busbedryf in die vervoer van die arbeidsmag speel. ’n Groep mense het Maandagaand depots in die Nkangala-distrik bestorm en die busse aan die brand gesteek. ’n Veiligheidswag is gewond, terwyl twee verdagtes in hegtenis geneem is. Creecy sê haar departement sal enige poging ondersteun om die sabotasie van die land se openbare vervoerstelsel te voorkom.
# Opposisiepartye in die Wes-Kaap het ‘n dringende vergadering met provinsiale polisiekommissaris, Thembisile Patekile, aangevra. Dit volg op bewerings deur JP Smith van die DA en die voorsitter van die party se Federale Raad, Helen Zille, dat hulle oor ‘n ondersoek oor tenderbedrog ingelig is. GOOD se woordvoerder, Brett Herron, sê die party sowel as die ANC, die EFF, die VF Plus en die PA verlang duidelikheid oor moontlike politieke inmenging in polisie-ondersoeke:
# Rugby: Die vleuel Josh Adams en die heelagter Liam Williams is ingesluit in Wallis se beginspan wat môre in Parys teen Frankryk speel in die eerste ronde van die Sesnasiesreeks. Die twee, wat groot dele van 2024 misgeloop het, sal ‘n welkome versterking bied aan Warren Gatland se span wat die afgelope 12 toetse verloor het. Dafydd Jenkins keer ook terug na ‘n operasie. Williams het nie aan verlede jaar se Sesnasies deelgeneem nie omdat hy in Japan gespeel het, maar is terug nadat hy in November na Saracens teruggekeer het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-889-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-760-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….