Nuus 06:00
BULLETIN 29 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC onderneem om energiesekerheid te bespoedig
# Jacob Zuma se dogter verskyn in die hof in verband met die Julie 2021-betogings
# En die VN waarsku die situasie in die DRK gaan vinnig agteruit
# Die ANC het beloof om energiesekerheid te versnel deur te fokus op bestendigheid by Eskom en die bevordering van hernubare energie. Die party prys die pogings wat reeds gelei het tot meer as 300 dae sonder onderbrekings in die elektrisiteitstoevoer en beloof voortgesette vordering in die oplossing van Eskom se uitdagings om ‘n meer betroubare kragtoevoer te verseker. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die party beoog om hernubare energie uit te brei, ekonomiese herstel te ondersteun en werk te skep:
Mbalula, sê intussen ook die party is daartoe verbind om vervoernetwerke te laat herleef en te fokus op die modernisering van infrastruktuur om verbindingsvermoë te verbeter en ekonomiese groei te stimuleer. Ná afloop van sy lekgotla oor die naweek beoog die party om infrastruktuur en doeltreffendheid te verbeter en veiligheid te verseker, veral met die koppeling van landelike en stedelike gebiede. Volgens Mbalula is hierdie pogings daarop gemik om ekonomiese groei te bevorder en beter openbare vervoerdienste aan alle burgers te verskaf:
# Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het ‘n onafhanklike ondersoek na die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde gelas na volgehoue bewerings van korrupsie en wanbestuur. Minister Parks Tau bevestig die ondersoek sal eersdaags begin. Daar bestaan kommer oor die tydelike verlies van sement-akkreditasie en kuberveiligheidskwessies. Tau erken die onbestendigheid van die SABS-raad wek kommer. Lede van die Portefeuljekomitee vir Handel, Nywerheid en Mededinging het die behoefte aan deursigtigheid en die beskerming van verklikkers beklemtoon namate die ondersoek vorder.
# Die MK-partyleier, Jacob Zuma, se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, sal Donderdag in die Durban-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die Julie 2021-betogings. Daar word beweer dat sy met haar sosialemedia-plasings een van die aanhitsers was. In Februarie verlede jaar het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se verslag aan die lig gebring dat 40-duisend ondernemings en 50-duisend informele handelaars deur die onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng geraak is, terwyl 150-duisend werksgeleenthede in gevaar gestel is. Meer as 300 mense is dood. Die finansiële skade is op 50-miljard-rand geraam.
# Die Verenigde Nasies waarsku die situasie in Goma in die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo is besig om vinnig agteruit te gaan te midde van voortslepende aanvalle deur Rwandees-gesteunde M23-rebelle. Minstens 17 buitelandse vredesmaglede is reeds dood in gevegte, insluitend 13 soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Die VN-hulpkoördineringskantoor se woordvoerder, Jens Laerke sê hulle eis die onmiddellike staking van die gevegte en vir die rebelle om te onttrek uit gebiede wat hulle beset:
# Krieket: Die Proteas is bekommerd oor die fiksheid van die middelorde-kolwer David Miller voor die Kampioenetrofee-toernooi. Paarl Royals se kaptein het sy lies seergemaak tydens veldwerk in Maandag se SA20-wedstryd teen Durban’s Super Giants en het nie gekolf nie. Miller het agterna gesê sy regterlies voel ‘n bietjie styf, maar hy glo nie dis ernstig nie. Dit volg op Anrich Nortjé se onttrekking aan die Kampioenetrofee, terwyl daar ook twyfel is oor Lungi Ngidi se fiksheid. Die toernooi begin op 19 Februarie in Pakistan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-285-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-763-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….