Nuus 06:00
BULLETIN 23 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is optimisties oor beleggingsgeleenthede na die Wêreld Ekonomiese Forum
# Die DA sê die NVG kan nie ingewikkelde finansiële misdade vervolg nie
# En rugby: Zain Davids word vereer vir ‘n Blitsbok-mylpaal
# President Cyril Ramaphosa sê die Suid-Afrikaanse afvaardiging by die Wêreld Ekonomiese Forum in Switserland het getoon dat die land ‘n wonderlike beleggingsbestemming is. Hy het gister die media by die forum in Davos toegespreek. Suid-Afrika het sy plek ingeneem as die eerste Afrika-land wat die presidentskap van die G20 inneem. Ramaphosa sê die forum was ‘n sukses vir die land, en hy is baie optimisties oor die beleggingsgeleenthede wat voorlê:
# Die DA sê die Nasionale Vervolgingsgesag het nie die onafhanklikheid, hulpbronne en vermoë om ingewikkelde finansiële misdade te vervolg nie. Een van die laaste oorblywende redes waarom Suid-Afrika op die gryslys is, is omdat die strafregstelsel nie daarin geslaag het om finansiële misdade te bekamp en te vervolg nie. Die Finansiële Aksie Taakspan het bepaal die land moet ‘n volgehoue toename in die ondersoek en vervolging van ernstige en ingewikkelde geldwasserysake toon. Die DA sê dit is belangrik dat ‘n Teen-korrupsie-kommissie gestig moet word om die land van die gryslys af te kry.
# Die ANC gaan Maandag sy leierskap in Gauteng en KwaZulu-Natal herstruktureer om sy reuse-afname in verlede jaar se verkiesing om te keer. Die steun in KwaZulu-Natal het van meer as 50-persent tot 17-persent gedaal en in Gauteng het dit tot 35-persent gedaal. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê nasionale amptenare, onder leiding van president Cyril Ramaphosa, beplan om provinsiale uitvoerende komitees met taakspanne te vervang om die party se posisie te versterk sonder om regeringsbedrywighede te ontwrig:
# Save South Africa veroordeel die beweerde korrupsie wat gekoppel is aan die huur van die Boipatong Monument en Jeugsentrum vir die 2024-herdenking van die Boipatong Slagting. Die voorsitter, Lerato Lumkile Moshesh beklemtoon daar is 449-duisend-618-rand betaal aan Mahloko Makhetha Trading, al besit die Departement van Sport, Kuns en Kultuur die perseel. Hy vra ‘n ondersoek deur die Openbare Beskermer:
# TotalEnergies sê sy reuse-gasprojek in Mosambiek, wat sedert 2021 opgeskort is ná ‘n jihad-aanval, sal eers hervat wanneer daar weer “vrede en veiligheid” in die Cabo Delgado-streek is. Die Franse onderneming het gereageer op ‘n Financial Times-verslag waarin gesê word hy het die begin van operasies weer “vertraag” oor veiligheids- en politieke risiko’s in die Suider-Afrikaanse land. Die uitvoerende hoof, Patrick Pouyanne, het in Oktober aangedui sy doelwit om in 2029 met gasproduksie te begin, was gebaseer op die hervatting van werk aan die projek teen die einde van die jaar.
# Rugby: Die losvoorspeler van die Blitsbokke, Zain Davids, speel Vrydag in sy 50ste HSBC-sewestoernooi vir die span in Perth, Australië, agt jaar nadat hy sy buiging in 2017 gemaak het. Vir die 27-jarige is dit ‘n trotse oomblik, gelykstaande aan sy vreugde met die eerste wedstryd. As ʼn sleutelspeler vir die Blitsbokke is Davids voornemens om as medekaptein met sy voorbeeld te lei om die span se wenmomentum van Kaapstad voort te sit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-884-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-754-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….