Nuus 06:00
BULLETIN 16 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Onderwys hoop Ramaphosa sal begrotingsuitdagings in sy Staatsrede aanspreek
# COPE versoek die regering om tegniese kolleges te bevorder
# En krieket: Anrich Nortjé is uitgesluit uit die SA20 en Kampioenetrofee
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, hoop president Cyril Ramaphosa sal die begrotingstekort in die onderwyssektor aanspreek tydens die Staatsrede. Die minister waarsku teen ‘n dreigende krisis namate provinsiale onderwysbegrotings sukkel om aan die groeiende eise te voldoen. Gwarube het aan eNCA gesê te midde van die befondsing-uitdagings, worstel provinsies met groter klasse en minder onderwysposte. Sy beklemtoon die behoefte aan gehalte-onderwys:
# Die Congress of the People versoek die regering om hom meer toe te spits op die bevordering van tegniese en beroepsonderwys- en opleidingskolleges. Die party glo hierdie instellings is van kardinale belang om die vaardigheidsgaping aan te spreek en werksgeleenthede vir jongmense te verbeter. COPE-woordvoerder, Teboho Loate, sê ‘n belegging in hierdie kolleges sal bydra om jong mense toe te rus met die vaardighede wat nodig is om suksesvol te wees in die arbeidsmark en by te dra tot ekonomiese groei:
# Mining Affected Communities United in Action eis aanspreeklikheid van die minister van Minerale Bronne, Gwede Mantashe, vir die Stilfontein-slagting. Die uitvoerende direkteur, Christopher Rutledge, berig 154 is gered en die liggame van 78 is uit die mynskag gehaal, met ongeveer 400 onwettige mynwerkers wat steeds ondergronds is. Rutledge beklemtoon haglike toestande, maar loof vrywilligers uit die gemeenskap wat lewens gered het. Hy het gevra vir ‘n kommissie van ondersoek na die aangeleentheid:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie sê dit is ontstellend om te verneem dat owerhede bewus was van verhoogde spanning wat gelei het tot die skietery Dinsdag by die Nyanga-taxistaanplek in Kaapstad. ’n Uitgelekte interne intelligensieverslag van die Stad Kaapstad se Veiligheids- en Sekuriteitinligtingsbestuursdienste toon dat amptenare ’n skietery by die taxistaanplek verwag het. Een persoon is dood en sewe is beseer. Die komitee se voorsitter, Ian Cameron, sê hulle sal verseker dat die SAPD-bestuur aanspreeklik gehou word.
# Daar was slegte nuus vir rentekoersverlagings nadat Amerikaanse verbruikersinflasie in Desember vir ‘n derde agtereenvolgende maand gestyg het terwyl energiepryse styg. Dit plaas druk op die Federale Reserwe om rentekoersverlagings terug te hou. Die verbruikersprysindeks het verlede maand tot 2,9-persent gestyg teenoor ‘n jaar gelede, vanaf 2,7-persent in November. Die Amerikaanse sentrale bank het sedert September koerse met ‘n volle persentasiepunt verlaag. Die onlangse styging in inflasie dra by tot die verwagtinge dat die koers later vandeesmaand onveranderd sal bly.
# Krieket: Die Protea-snelbouler, Anrich Nortjé, is weens ‘n rugbesering uitgesluit van die res van die SA20-toernooi en die komende Kampioenetrofee van die IKR. Die 31-jarige het sedert die T20-Wêreldbekertoernooi in Junie verlede jaar geen internasionale krieket gespeel nie. Nortjé se waarskynlike plaasvervanger in die Protea-groep vir die Kampioenetrofee is Gerald Coetzee van die Joburg Super Kings wat terug is nadat hy in November verlede jaar ‘n liesbesering opgedoen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-645-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-694-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….