Nuus 06:00
BULLETIN 15 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube wil in 2025 groter fokus plaas op die grondslagfase
# Meer as 100 onwettige mynwerkers is in Stilfontein na die oppervlak gebring
# En hommeltuie word deur misdadigers in Brittanje gebruik om wapens in tronke af te lewer
# Met die heropening van skole vandag vir die 2025 akademiese jaar, sê die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, daar moet ‘n groter fokus op die grondslagfase wees. Die minister sal vandag die Kwezilesizwe Primary School in die Oos-Kaap besoek om graad R- en 1-leerders op hul eerste skooldag te verwelkom. Sy sal ook die geskiedkundige Healdtown Secondary School besoek om die 2025-matriekklas toe te spreek. Gwarube sê ‘n grondslagfase in geletterdheid en syfervaardigheid is belangrik vir leerders:
Alana Bailey van AfriForum versoek intussen Gwarube, om provinsiale deurvoer-persentasies saam met slaagsyfers vir matriek te publiseer. Bailey voer aan die weglating van uitvalsyfers vir graad 10 tot 12 verbloem betekenisvolle opvoedkundige uitdagings. Bailey kritiseer die deurvoerkoers van 64-persent in Suid-Afrika en sê om albei koerse voor te lê sal ‘n beeld skep van struikelblokke met nasionale en provinsiale onderwys en die uitwerking daarvan op ekonomiese groei en maatskaplike bestendigheid:
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur het tot en met gistermiddag altesaam 118 onwettige mynwerkers in Stilfontein in Noordwes na die oppervlak gebring, met 36 sterftes wat bevestig is. Reddingspogings gaan voort met die gebruik van ‘n spesiale hyser. Onwettige mynwerkers het verlede week beweer meer as 100 mense het ondergronds gesterf as gevolg van hongersnood en dehidrasie. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe sê 82 mans is in hegtenis geneem vir onwettige mynboubedrywighede, betreding en immigrasie-oortredings:
# Die KwaZulu-Natalse Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur het strafregtelike klagtes ingedien teen ‘n voormalige senior amptenaar oor growwe nalatigheid wat die departement 1,1-miljard-rand gekos het. Die voormalige direkteur van bevoorradingsbestuur, Musa William Zondi, is verlede week afgedank ná ‘n ondersoek na teenstrydighede oor die aanstelling van ‘n konsultasiefirma. Daar is bevind dat ‘n totaal van 29 kontrakte aan een enkele firma toegeken is. Die departement het ook strafregtelike klagte aanhangig gemaak teen nog drie senior amptenare vir beweerde korrupsie en finansiële misdrywe.
# Georganiseerde misdaadbendes in Brittanje span hommeltuie in om dwelms en selfs wapens by gevangenes in tronke af te lewer, wat die nasionale veiligheid bedreig. Hoofinspekteur van gevangenisse, Charlie Taylor, sê die bendes is in staat om gesmokkelde ware by tronke met uiters gevaarlike gevangenes af te lewer. Dit volg na inspeksies van die Manchester-gevangenis in noordwes-Engeland en die Long Lartin-gevangenis in die weste. Die Manchester-gevangenis het ‘n ernstige probleem want hommeltuie lewer dwelms, wapens, selfone en selfs wegneemetes by selvensters af. Sowat 220 waarnemings van hommeltuie is by gevangenisse aangeteken.
# Rugby: Maro Itoje vervang Jamie George as kaptein van Engeland vir die Sesnasies. Hoofafrigter Steve Borthwick het ‘n groep van 36 aangewys en Itoje neem oor by sy Saracens-spanmaat. George word as haker dikwels vroeg in die tweede helfte vervang wanneer wedstryde gewen of verloor kan word. Hy is nou as onderkaptein aangewys. Itoje se bevordering is ‘n bykomende rol as leier nadat hy aan die begin van die seisoen oorgeneem het as kaptein van Saracens.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-556-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-674-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….