Nuus 06:00
BULLETIN 14 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die matriekslaagsyfer is 87,3-persent met die Vrystaat wat die beste vaar
# ‘n Prokureursfirma toets ‘n omstrede bemagtigingskode in die hof
# En Rusland en Iran onderteken ‘n strategiese vennootskapsverdrag
# Suid-Afrika se slaagsyfer in die 2024 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen het van 82,9-persent in 2023 tot 87,3-persent toegeneem. Dit is die hoogste slaagsyfer in die land se geskiedenis. Die Vrystaat het die beste gevaar met 91-persent, teenoor 89-persent in 2023. KwaZulu-Natal is tweede met ‘n slaagsyfer van 89,5-persent en Gauteng is derde met 85,4-persent. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê byna die helfte van die leerders wat die eksamen geskryf het, het baccalaureus-vrystelling ontvang:
Die adjunkminister van Basiese Onderwys, Reginah Mhaule, het intussen die sogenaamde mite oor die 30-persent slaagsyfer in die land uit die weg geruim. Vir toelating tot Baccalaureus-studies, moet ‘n kandidaat 40-persent vir ‘n huistaal behaal, 50-persent in vier ander vakke, Lewensoriëntering uitgesluit, 30-persent in die onderrigtaal, en 30-persent in een ander vak. Mhaule sê ‘n kandidaat moet ses uit sewe vakke slaag:
# ‘n Internasionale regsfirma, Norton Rose Fulbright Suid-Afrika het ‘n regsgeding teen die regering van stapel gestuur oor die nuwe kode van die Breë-gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging vir die regsektor. Die regsfirma voer aan die kode, wat streng teikens stel vir swart eienaarskap en bestuur in regsfirmas, is onwettig en ongrondwetlik. Die firma beweer die kode sal hul gradering en vermoë om staatskontrakte te verkry ernstig beïnvloed. Die Departement van Handel en Nywerheid hersien die saak en sal teen 25 Januarie reageer.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, prys die Westown-ontwikkeling ter waarde van 15-miljard-rand naby Durban in KwaZulu-Natal as ‘n bloudruk vir ekonomiese herstel. Die gemengde-gebruik-projek, ‘n openbare-privaat vennootskap, het reeds een-duisend werksgeleenthede in konstruksie geskep en sal na verwagting agt-duisend-500 permanente werksgeleenthede skep ná voltooiing. Macpherson het ‘n beroep gedoen vir soortgelyke inisiatiewe landswyd om ekonomiese groei te bevorder, werk te skep en infrastruktuur te verbeter:
# Rusland en Iran sal Vrydag ‘n omvattende strategiese vennootskapsverdrag onderteken tydens die Iranse president, Masoud Pezeshkian se besoek aan Rusland. Hul militêre en politieke samewerking is versterk weens bekommernisse oor die Weste, Moskou en Teheran te midde van Rusland se volskaalse militêre aanslag op Oekraïne en die konflik in die Midde-Ooste. Die Kremlin sê die twee leiers sal vooruitsigte vir die verdere uitbreiding van bilaterale samewerking bespreek, insluitend handel en belegging, vervoer en logistiek en humanitêre faktore. Kwessies met betrekking tot die streeks- en internasionale agenda sal ook bespreek word.
# Rugby: Die hoofafrigter van die Haaie, John Plumtree het ‘n 28-man-groep aangewys vir hul twee komende buitelandse wedstryde. Die groep sluit in 16 voorspelers en 12 agterspelers, met die terugkeer van Ntuthuko Mchunu, James Venter, Grant Williams, Lukhanyo Am en Eduan Keyter. Plumtree se eerste wedstryd in die buiteland is Sondag se Kampioenebeker-wedstryd teen Bordeaux Bègles in Frankryk. Hul tweede is die Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen Cardiff op 25 Januarie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-318-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-665-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….