Nuus 06:00
BULLETIN 13 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube maak vandag die matriekuitslae vir 2024 bekend
# Die DA striem die Emfuleni Munisipaliteit vir die besteding van ‘n halfmiljard-rand aan oortyd
# En die dodetal in Los Angeles styg tot 16 met brandbestryders wat steeds teen sterk wind veg
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, maak vandag die 2024-matriekuitslae in Gauteng bekend, met meer as 870-duisend kandidate wat hul lot afwag. Vanjaar word die individuele uitslae vir die Nasionale Senior Sertifikaat en Onafhanklike Eksamenraad môre [Dinsdag] in die media gepubliseer. Die Hooggeregshof in Pretoria het verlede week die Inligtingsreguleerder se dringende aansoek om die publikasie te keer, van die hand gewys. In 2023 was die nasionale matriekslaagsyfer 82,9-persent.
Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sal intussen vandag die 2024-matriekuitslae vrystel. Maynier sê die fokus sal verder strek as bloot die slaagsyfer en kyk na gehalte-aanwysers soos baccalaureus-slaagsyfers en minder skole wat swak vaar. Hy hoop ook om voort te bou op sterk uitslae in Wiskunde en Wetenskap:
# Die DA het die Emfuleni Munisipaliteit gekritiseer omdat hy sedert 2019 meer as 561-miljoen-rand aan oortyd bestee het. Die DA se kiesafdelingshoof in Emfuleni Noord, Kingsol Chabalala, sê ondanks reuse-oortydbetalings ly die inwoners weens swak dienslewering. Chabalala het die Gautengse regering versoek om amptenare aanspreeklik te hou vir finansiële wanbestuur. Hy het ook oudits en hervormings voorgestel om misbruik te voorkom:
# Die dodetal in die Los Angeles-brand het tot 16 gestyg, met elf wat toegeskryf word aan die Eaton-brand en vyf aan die Palisades-brand. Sestien mense is as vermis aangemeld en meer as 12-duisend strukture vernietig. Daar is ongeveer 105-duisend inwoners onder ontruimingsbevel en ongeveer 87-duisend inwoners wat gewaarsku is om te ontruim. Die burgemeester van Los Angeles, Karen Bass, sê die dae wat voorlê sal steeds uitdagend wees, maar hulle sal deur hierdie krisis kom:
# Rugby: Die Cheetahs het ‘n naelskraapse oorwinning van 22-18 behaal teen die Italiaanse span Zebre in hul Uitdaagbeker-kragmeting in Amsterdam. Zebre het vir die laaste 35 minute van die wedstryd met 18-17 voorgeloop en dit het gelyk of hulle genoeg gedoen het om te wen. Die plaasvervanger-heelagter Cohen Jasper het egter in ekstra tyd ‘n drie gedruk om ‘n oorwinning te beklink. Dit behou die Cheetahs in die wedloop vir ‘n plek in die uitspeelrondes met een ronde groepwedstryde oor. Die Cheetahs voltooi Saterdag die groepfase teen Lyon.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-207-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-688-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Verdrinkingsvoorkomingsorganisasies bepleit dringende swemonderrig nadat 42 verdrinkingsvoorvalle gedurende die feestyd aangeteken is, met 34 sterftes. Die president van Lewensredders SA, Dhaya Sewduth, sê KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap is die ergste getref. Rivierverdrinkings het meestal in Limpopo voorgekom. Sewduth sê in baie gevalle het kinders sonder toesig geswem sonder enige kennis van waterveiligheid. Die Nasionale Seereddingsinstituut vra intussen vir ‘n skool-waterveiligheidskurrikulum. Die instituut sê ‘n derde van die wêreldwye verdrinkingsterftes in kinders onder 14 kom in Suid-Afrika voor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….