Nuus 06:00
BULLETIN 10 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Gwen Ramokgopa sê die ANC moet harder werk om die lewens van landsburgers te verbeter
# Minstens 20 mense is gearresteer tydens die Los Angeles-veldbrande
# En motorsport: Henk Lategan en Brett Cummings vergroot hul algehele voorsprong in die Dakar-veldren
# Die tesourier-generaal van die ANC, Gwen Ramokgopa, sê die party moet nou nog harder werk om die meeste Suid-Afrikaners se lewens te verbeter. Die ANC-president Cyril Ramaphosa gaan Saterdag die 8 Januarie-verklaring in Kaapstad lewer terwyl die party sy 113de verjaardag vier. Ramokgopa sê die ANC het baie gedoen oor die afgelope drie dekades, maar nie almal het by die party se beleid baat gevind nie:
Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie doen intussen ‘n beroep op die ANC om te fokus op eenheid en leierskapsvernuwing om die land se uitdagings aan te pak. Die vakbond doen ‘n beroep op leiers om openbare vertroue te herstel en ondersteun die party se pogings vir doeltreffende bestuur. SADOU het die ANC se pogings om onderwys te bevorder geprys, veral met projekte soos die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente en gratis onderwys vir laer-inkomsteskole, ingevolge die doelwitte van die Vryheidsmanifes.
# Die spertyd kom nader vir belanghebbendes om insette oor voorgestelde regulasies vir die onkonvensionele ontginning van gas in te dien. Dit sluit in hidrobreking, steenkoolbed-metaan en ondergrondse steenkoolvergassing. Die Departement van Water en Sanitasie aanvaar nog tot 15 Januarie 2025 skriftelike kommentaar. Die regulasies is om waterbronne teen besoedeling te beskerm terwyl verantwoordelike ontginning verseker word. Openbare konsultasies is op 6 Januarie 2025 na die vakansie hervat, om hierdie krities belangrike omgewingsvoorsorgmaatreëls ingevolge die Nasionale Waterwet te finaliseer.
# ActionSA versoek die KwaZulu-Natalse LUR vir Openbare Werke en Infrastruktuur, Martin Meyer, om die afdanking van ‘n senior bevoorradingsbestuursbeampte na die Valke te verwys om verder ondersoek in te stel. Die amptenaar is afgedank ná ‘n interne ondersoek die toekenning van kontrakte ter waarde van 1,1-miljard-rand aan ‘n enkele konsultant onthul het. ‘n ActionSA-lid, Sanelisiwe Zuma meen verdere ondersoek is nodig om vas te stel of ander ook betrokke was en of daar moontlik sameswering was:
# Minstens 20 mense is gearresteer vir plundering of huisbraak, terwyl vyf veldbrande steeds in Los Angeles woed. Vyf mense is dood toe die brande duisende strukture vernietig het en tot die gedwonge ontruiming van meer as 130-duisend mense gelei het. LA City-brandweerhoof, Kristin Crowley, sê die Palisades-brand, in die kusgebied tussen Malibu en Santa Monica, is een van die mees vernietigende natuurrampe in die geskiedenis van Los Angeles:
# Motorsport: Henk Lategan en Brett Cummings van Suid-Afrika het hul algehele voorsprong tot tien minute in die Dakar-tydren oor Mattias Ekström van Swede en Yazeed Al-Rajhi van Saoedi-Arabië vergroot. Nasser Al-Attiyah en Fransman Edouard Boulanger het egter die skof van 428-kilometer oorheers en hulle algehele agterstand teenoor Lategan tot 25 minute verminder. Suid-Afrikaanse spanne, insluitend Saood Variawa, het gemengde welslae behaal. Deelnemers het vandag ‘n rusdag in Ha’il, Saoedi-Arabië, en berei voor vir Saterdag se skof van 605 kilometer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-626-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-669-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….