Nuus 06:00
BULLETIN 8 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar heers onsekerheid oor die publikasie van die 2024-matriekuitslae
# Die MK-party vra vir beleid om Suid-Afrika se strategiese nywerhede te beskerm
# En motorsport: Kaapstad wil die Formule 1-wedren in Groenpunt aanbied
# Die matrieks van 2024 sal eers vandag uitvind of hul uitslae volgende week gepubliseer sal word. Die Inligtingsreguleerder het gister die Hooggeregshof in Pretoria gevra om die publikasie van matriekuitslae dringend te staak, maar regter Ronel Tolmay het die dringendheid bevraagteken met verwysing na ‘n hofbevel van 2022 wat die praktyk toelaat. ‘n Uitspraak rakende die interdik word later vandag verwag. Die reguleerders se prokureur, Kennedy Tsatsawane het aangevoer die publikasie van uitslae met behulp van eksamennommers oortree die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting:
# Die MK-party sê ArcelorMittal Suid-Afrika se besluit om sy Newcastle- en Vereeniging-aanlegte te sluit, weerspieël die afwesigheid van ’n regering wat in staat is om die land se strategiese nywerhede te beskerm. Die sluiting bedreig die werksgeleenthede van ongeveer drie-duisend-500 werkers. Die MK-party vra vir onmiddellike beleidsingrypings, insluitend die verbod op goedkoop staalinvoer om plaaslike nywerhede te beskerm en werk te skep. Die party sê die Parlement se portefeuljekomitees oor Vervoer en Handel, Nywerheid en Mededinging moet dringend ingryp om die sluiting van ArcelorMittal se bedrywighede te keer.
# Die DA in Tshwane verwelkom die Spesiale Ondersoekeenheid se aankondiging dat strafregtelike verwysings aan die Nasionale Vervolgingsgesag gedoen is oor die saak van die vyftal wat betrokke was by die Rooiwal-suiweringsaanleg. Dit behels ‘n onreëlmatige tender aan die sakeman, Edwin Sodi, en amptenare wat betrokke was. Die koukusleier van die DA in Tshwane, Cilliers Brink, het ook die stadsbestuurder van Tshwane, Johann Mettler, gevra om die skorsingsbesluit van die amptenare te hersien:
# AZAPO het die regering versoek om tradisionele inisiasieskole instellings te maak en jaarlikse begrotings vir hul regulering toe te ken. Verskeie ingelyfdes het hierdie somer tragies gesterf en AZAPO sê die sterftes was voorkombaar en hou verband met misdadigheid by bedrieglike skole. Die party beywer hom vir die monitering van gesondheidsorg, sigbare wetstoepassing en samewerking met verskeie belanghebbendes. AZAPO beklemtoon in ‘n verklaring ook die noodsaaklikheid van skuldigbevindings as ‘n afskrikmiddel. Tradisionele leiers en raadslede word verder versoek om voorkeur te gee aan die veiligheid van jong mans.
# John Mahama is as nuwe president van Ghana ingehuldig te midde van die ergste ekonomiese krisis in die land in ‘n leeftyd. Die 65-jarige het van 2012 tot 2017 ook as president gedien en het visepresident Mahamudu Bawumia verslaan nadat hy onderneem het om ekonomiese uitdagings, korrupsie en werkloosheid onder die jeug aan te spreek. Mahama se oorwinning in die Desember-verkiesing word beskou as ‘n belangrike toets vir Ghana se demokrasie. Hy het voormalige president Nana Akufo-Addo bedank vir sy diens:
# Motorsport: Kaapstad Grand Prix SA is besig om ‘n bod voor te berei om in 2027 ‘n Formule Een-straatren aan te bied. Die voorgestelde baan van 5,7-kilometer in Groenpunt sal ʼn uitstalvenster wees vir die Kaapstad-stadion en die ikoniese bakens van die Moederstad. Kaapstad word opgeweeg teen die Kyalami-renbaan in Johannesburg wat sy fasiliteite gaan opgradeer om F-I-A Graad 1-akkreditasie te verkry. Die uitvoerende hoof, Igshaan Amlay, is optimisties oor die Kaapstad-bod en wys op aansienlike ekonomiese voordele, die bevordering van toerisme en plaaslike besteding. Formule Een het laas in 1993 ‘n wedren in Suid-Afrika by die Kyalami-baan aangebied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-884-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-649-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….